Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Interpol trek 3de lid van ivoorsindikaat vas

Interpol het die derde leier van ’n internasionale sindikaat wat ivoor van Suider-Afrika na China smokkel, verlede Saterdag in Tanzanië vasgetrek en aan China uitgelewer.

Die internasionale omgewingsondersoekagentskap (EIA) het gister in ’n verklaring gesê die betrokkenheid van die drie Chinese mans is reeds in 2017 in ’n verslag, The Shuidong Connec­tion: Exposing the global hub of the illegal ivory trade, ontbloot.

Die EIA, ’n internasionale agentskap wat wildsmokkelnetwerke ondersoek, het die mans se smokkelnetwerk drie jaar lank in die geheim ondersoek en hul netwerk in die Chinese dorpie Shuidong binnegedring.

Ons is baie dankbaar dat die Chinese regering so streng opgetree het met die hele operasie en dat een van die sleutelfigure nou aan dié land uitgelewer is.

Die dorpie is blykbaar ’n brandpunt vir ivoor wat van Suider-Afrika na China gesmokkel word.

In die Shuidong Connection is die drie leiers van die sindikaat as ene Wang, Xie en Ou geïdentifiseer.

Die EIA het die Chinese regering op ’n geheime vergadering ingelig oor hul bevindings oor die drie mans.

Optrede het op 6 Julie 2017 gevolg en 500 lede van die Chinese teensmokkeleenheid het op Shuidong toegeslaan en klopjagte op winkels en huise onderneem.

Wang is in die klopjag in Shuidong in hegtenis geneem en vir 15 jaar tronk toe gestuur. Xie is in Tanzanië opgespoor en het homself oorgegee. Hy dien tans ses jaar tronkstraf in Tanzanië uit.

Die Chinese regering het aan die EIA bevestig dat Ou met die hulp van Interpol op 5 Januarie uit Nigerië aan China uitgelewer is en nou in dié land verhoor sal word.

“Ons is baie dankbaar dat die Chinese regering so streng opgetree het met die hele operasie en dat een van die sleutelfigure nou aan dié land uitgelewer is. Dit is veral verblydend dat die regering die EIA se inligting opgevolg het,” het Julian Newman, een van die EIA se direkteure, gesê.

Die drie sindikaatbase het in die ondersoek erken dat hulle direk betrokke was by verskeie vragte ivoortande wat van Suider-Afrika na China verskeep is.

Die aftakeling van die sindikaat is goeie nuus vir Afrika se olifante, wat teen meer as 100 per dag gestroop word, het Newman gesê.

“Ons meen die feit dat die derde lid van die sindikaat nou ook vasgetrek is, behoort ’n gevoelige slag vir die sindikaat te wees.”

Die Chinese teenstropingseenheid het intussen ook nog twee sindikate in die provinsies Guangdong en Fujian ontwrig.

11 lede van verskillende sindikate is in Februarie verlede jaar tronk toe gestuur. Hulle dien tans tronkstraf van tussen ses en 15 jaar vir die smokkel van ivoor uit.

  • Volgens die Groot Olifantsensus wat in 2016 opgeneem is, die grootste wild­opname tot dusver, was daar in daardie jaar 352 271 olifante in Afrika oor. In 1979 was daar sowat 600 000. Aan die begin van die 20ste eeu was daar 1 miljoen olifante op die vasteland. In 2015 is 22 olifante in die Krugerwildtuin gestroop, in 2016 46 en in 2017 68 olifante.
Meer oor:  Interpol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.