Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Inwoners gemaan ná nog aanvalle in Happy Valley

Mense moet versigtig wees as hulle ná werk by Happy Valley in Bloemfontein gaan fietsry of stap, sê ’n inwoner nadat hy en sy ma in twee afsonderlike voorvalle kort ná mekaar hier aangeval is.

Sedert April vanjaar was daar al minstens sewe voorvalle waarin inwoners met messe gedreig en beroof is.

PJ Vivier, ’n tegniese ontwerper, en ’n vriend is die jongste slagoffers van twee rowers wat glo agter die meeste van die aanvalle is.

Die Happy Valley-bewarea in Bloemfontein is nie ’n veilige omgewing om te gaan stap, fietsry of draf nie. Foto: Facebook

Sy ma, Tokkie (69), is ’n week vroeër beroof, vermoedelik deur dieselfde mans.

In Junie is ’n fietsryer ook deur twee mans, een gewapen met ’n pistool, beroof.

Vivier, wat in Dan Pienaar bly, sê Happy Valley is nie veilig nie. Volgens hom is hy en ’n vriend deur twee mans genader terwyl hulle daar fietsgery het, een was met ’n klip gewapen.

“Ek het ook ’n klip opgetel. Die een met die klip het gevra hoekom wil ek baklei. Ek het geantwoord ek wil nie. Hy wou weet hoekom tel ek ’n klip op, en ek het vir hom gevra hoekom dra hy ’n klip rond.

“Toe pluk die ander ou ’n mes uit. Ek het aanhou vorentoe beweeg, maar my vriend het agter gebly.”

Een van die mans het toe gesê “kill this one”.

Volgens Vivier het die mans hom met klippe begin gooi en hy het sy valhelm gebruik om die klippe te keer. Hy is nie beseer nie.

Ons het ook mense gewaarsku om nie alleen daar in die aande te gaan ry of hardloop nie, veral vroue en kinders.
Qondile Khedama, munisipale woordvoerder.

Die man met die mes het Vivier se vriend se selfoon geëis, wat dit toe oorhandig het.

Willem Raubenheimer, voorsitter van die Happy Valley-bewarea, sê die voorvalle het ’n negatiewe impak op die gebied en die vermoede bestaan dat dit dieselfde twee of drie mense is wat by die meeste van die voorvalle betrokke is.

“Ons is afhanklik van die polisie, maar ons kan nie verwag hulle moet die plek elke oomblik oppas nie. Die gebied is te groot.”

Die ideaal is om die voorste deel van die gebied te omhein, maar dit is ’n deel van 550 m wat toegespan moet word en dit sal baie kos. Die plan is om te kyk of die nodige geld deur ’n fondsinsameling bekom kan word, sê hy.

Volgens Raubenheimer sal dit help as die twee of drie skuldiges vinnig aangekeer word.

Qondile Khedama, munisipale woordvoerder, sê op die metro se gereelde vergaderings het hulle met die polisie ooreengekom om sigbaar te wees in die gebied.

“Ons het ook mense gewaarsku om nie alleen daar in die aande te gaan ry of hardloop nie, veral vroue en kinders,” sê hy.

Kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het die voorvalle bevestig en sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Pj Vivier  |  Willem Raubenheimer  |  Happy Valley  |  Bloemfontein  |  Misdaad  |  Aanvalle  |  Rowers  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.