Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Inwoners glo perlemoenstroper het man doodgery

Die gemeenskap van Pearly Beach is op die oorlogspad nadat ’n inwoner, wat Donderdag in ’n tref-en-trap-ongeluk was, gesterf het. Daar word geglo dat perlemoenstropers, wat “soos duiwels jaag”, die ongeluk veroorsaak het.

Bernard Labuschagne (61) van Pearly Beach. Foto: Facebook

Bernard Labuschagne (61), alombekend as “Lappies”, het Donderdag in die Hermanus Mediclinic aan sy wonde beswyk. ’n Wit bakkie het hom glo op ’n grondpad langs die see getref en daarna van die toneel weggejaag.

Hy het nege jaar gelede na Pearly Beach getrek nadat hy ’n plaasaanval buite Rustenburg oorleef het.

“Die plaasaanval het hom met spesiale behoeftes gelaat en hy het elke oggend gaan fiets ry om sy brein weer van vooraf te leer hoe om alles te doen,” het ’n vriend van die familie gesê.

Labuschagne se vrou, Marie, was te getraumatiseer om met Netwerk24 te praat.

“Die hartseer is nog te rou. Sy is in skok en baie broos,” het ’n vriendin van die familie gesê.

Die gemoedere loop nou hoog op dié klein kusdorpie. Woedende inwoners blameer perlemoenstropers, wat ’n “skrikbewind” op die dorp voer, vir Labuschagne se dood.

’n Optog is reeds Donderdagmiddag op die dorp gehou nadat nuus van sy dood soos ’n veldbrand versprei het.

Dudley Coetzee, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, tydens Donderdag se optog. Foto: Verskaf

“Genoeg is genoeg. Wat op die dorp gebeur, kan nie meer aangaan nie,” het ’n inwoner gesê.

’n Memorandum waarin strenger polisiëring geëis word as gevolg van die perlemoenstropery wat glo handuit ruk, is aan Dudley Coetzee, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit en ook ’n Pearly Beach-inwoner, oorhandig.

Inwoners, wat anoniem wou bly, het gesê hulle kom skaars naby die strand omdat die perlemoenstropers die gebied oorgeneem het.

“Dis ’n vakansiedorp en ons kan nie by die see uitkom nie,” het bure van Labuschagne gesê.

“Ek was gister op die ongelukstoneel en dit was die eerste keer in twee jaar dat ek by die see was. Weens die bendes en stropers wat hier ’n skrikbewind voer, kan ons nie ons voete by die see sit nie,” het dié inwoner gekla.

Volgens ’n lid van die buurtwag wemel die strand van die stropers.

Pearly Beach-inwoners vra vir vrede in hul dorp, waar perlemoenstropers glo ’n skrikbewind voer. Foto: Verskaf

“Tonne perlemoen word daagliks hier uitgehaal en niks word daaraan gedoen nie. Ons polisie is kop in een mus met die skurke.”

Ander het opgemerk dat stropers nooit op hul dorp aangekeer word nie, maar in ander dorpe word wel op voertuie met perlemoen beslag gelê.

“Hulle ry ons van die paaie af en jaag asof die duiwel agter hulle aan is. Ons word gedreig as ons naby die see kom,” het nog ’n inwoner gesê.

“Hulle skree vir ons: ‘Ons werk nou hier!’ ”

Donovan Heilbron, polisiebevelvoerder in die Overstrand-gebied, het gesê ’n ooggetuie, wat sowat 50 m van die ongelukstoneel was, het slegs ’n wit bakkie gesien en nie die bestuurder of die registrasienommer nie.

Pearly Beach-inwoners wat Donderdag aan die optog deelgeneem het. Foto: Verskaf

Heilbron het gewaarsku dat mense nie sommer moet aanneem dat die bestuurder van die bakkie ’n perlemoenstroper is nie.

“Daar is nog geen bewyse wat dat die verdagte deel van die onwettige perlemoensmokkelary in die gebied is nie.”

Die Wes-Kaapse polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Volgens lt.kol André Traut, polisiewoordvoerder, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Inwoners het Vrydag begin om geld in te samel vir ’n beloning aan enigiemand wat inligting oor die bestuurder van die wit bakkie het.

Meer oor:  Bernard Labuschagne  |  Pearly Beach  |  Hermanus  |  Perlemoenstroper  |  Botsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.