Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Inwoners hou optog oor veiligheid ná moord op meisie (19)

Die gemeenskap van Kleinkrantz naby Wildernis hou Sondag ’n optog teen misdaad en weens die onveilige omstandighede waarin hulle woon nadat die lyk van ’n 19-jarige meisie vandeesweek daar gekry is.

Emmerancia Roman, wat by ’n restaurant in Wildernis gewerk het, se lyk is Maandag omstreeks 06:00 deur ’n verbyganger in ’n beboste gebied by die informele nedersetting gekry en die polisie is ontbied. Roman het blykbaar steekwonde in haar nek gehad.

Die polisie ondersoek ’n klag van verkragting en moord, sê sers. Chris Spies, ’n polisiewoordvoerder. “Die ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium.”

Hy sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Joanie Visagie-Jantjies, ’n organiseerder van die optog, sê die gemeenskap is diep geskok en baie kwaad ná die moord.

Emmerancia RomanFoto: Facebook/Emmerancia Roman

“Sy was ’n voorbeeldige kind wat hard gewerk het en nie soos baie ander jong mense van haar ouderdom net by die huis gesit het nie. Die gemeenskap vra dat die skuldige homself aan die polisie oorgee en erken wat hy gedoen het.”

Volgens haar het Roman Sondagaand nog saam met vriende by ’n huis in Kleinkrantz gekuier. Sy is glo toilet toe en is nie weer daarna gesien nie.

Volgens Visagie-Jantjies begin die optog Sondag om 14:00. Hulle sal in Protealaan bymekaarkom.

Inwoners is ontevrede oor misdaad en geweld en voel onveilig ná wat gebeur het, sê sy.

“Ons vra die polisie en owerhede soos die George-munisipaliteit se hulp.”

Roman was volgens haar Facebook-blad ’n oudleerling van die PW Botha Kollege in George.

Sy word voorlopig op 21 Desember in Touwsranten begrawe en die tyd moet nog bekend gemaak word.

Sy word deur onder andere haar ma oorleef.

Mense met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, sers. John Boesak, by 044 803 4713 of 08600 10111 bel.

Meer oor:  Wildernis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.