Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Inwoners geskok ná rooftogte, moord op landgoed

Inwoners is steeds geskok oor die moord en rooftogte op die De Vierde Liefde-landgoed in Wolseley in die Wes-Kaap.

Drie mans het Vrydagaand by twee huise op dié landgoed ingebreek en in die een voorval is Renée Jain vermoor en die huis is beroof. Haar man, Raj, was nie tuis nie.

Magda Piere, woordvoerder van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê inwoners van Wolseley is nie aan hierdie tipe aanvalle gewoond nie en is baie geskok.

“Dit is die eerste keer dat so iets hier gebeur,” sê Piere.

Volgens die polisie het drie Afrikaanssprekende mans die eerste huis, wat aan ’n bejaarde egpaar behoort, omstreeks 23:45 beroof.

Volgens sers. Meryll Africa, polisiewoordvoerder van Wolseley, was die egpaar in die bed toe die mans ’n swaar houtbeeld deur ’n glasdeur van hul slaapkamer gegooi het.

Renée Jain Foto: Facebook/Renée Jain

Die verdagtes het maskers en kappiehemde aangehad.

Hulle het geld en juweliersware geëis en die 75-jarige man beveel om die motorhuis se deur oop te maak en sy voertuig se sleutel te oorhandig. Daarna het hulle die egpaar vasgebind en in die badkamer toegesluit.

Volgens Africa het die hulle daarin geslaag om deur die badkamervenster te ontsnap en die alarm te aktiveer.

Die voertuig is later in Tulbagh gevind.

Terwyl die polisie op die toneel was, het die landgoed se opsigter hulle in kennis gestel dat Jain nie haar telefoon antwoord nie. Hulle is omstreeks 03:30 na haar huis en het haar lyk in die slaapkamer gekry.

’n Saak van moord en roof word ondersoek en ’n lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.

Jain was ’n IT-kenner en ’n saketoepassingsbestuurder vir Cape Union Mart en was ’n lid van die adviesraad van die Fedisa-mode-akademie.

Andre Labuschaigne, hoof van Cape Union Mart, het gesê die maatskappy is geskok oor haar moord.

“Sy was ’n inspirasie en mentor vir baie. Haar toewyding aan haar beroep en ons onderneming was onmeetbaar. Ons sal haar met liefde onthou en baie mis,” het hy gesê.

Hy het medelye met Jain se man en haar ma, Cathy Bruyns, en almal wat deur haar dood geraak word, betuig.

“ ’n Mens besef nooit watter invloed iemand op jou lewe het voordat hulle weg is nie,” het hy gesê.

’n Gedenkdiens is Woensdag in Kaapstad vir Jain gehou, berig Jana Breytenbach.

Alwyn Mouton, voorsitter van die plaaslike belastingbetalersvereniging, sê daar is ’n algemene gevoel dat misdaad in dié gebied toeneem.

In die afgelope jaar het drie moorde, wat dié van Jain insluit, die gemeenskap geruk.

Dr. Roelof Botha is in Junie 2020 in Tulbagh, sowat 15 km vanaf Ceres, vermoor.

Hierna is Siyamcela Sombambela in hegtenis geneem nadat hy na bewering drie vroue in Oktober in Wolseley vermoor het.


Meer oor:  Moord  |  Renée Jain
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.