Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Is ANC-twis rede vir moord op Shaheed Omar?
Shaheed Omar (38)

Is Dullah Omar, oudminister van justisie, se broerskind, Shaheed Omar, in ’n huurmoord doodgeskiet, of was hy bloot die slagoffer van ’n sinnelose misdaad?

Dit is die vrae wat gevra word nadat Shaheed Donderdag omstreeks 20:30 in Ottery in Kaapstad doodgeskiet is.

Shaheed (38) is dr. Adam en Zubeigha Omar se seun. Adam is Dullah Omar se broer.

Zubeigha was saam met haar seun in sy Volkswagen Polo toe hy geskiet is, sê sy tante, dr. Mirriam Omar.

“Hy was op pad van sy oom se huis in Grassy Park waar sy ma gekuier het. Hy moes sy ma by haar huis in Rylands aflaai. Op die hoek van Lansdowne- en Jan Smutsweg in Lansdowne het mans met vuurwapens voor die voertuig ingespring.”

Shaheed het vir die mans gesê om die voertuig te vat en wat ook al hulle wou hê.

Hy het hulle gesoebat om hom en sy ma te laat gaan. Hulle het hom egter geskiet en gevlug sonder om enigiets te vat

“Hy het hulle gesoebat om hom en sy ma te laat gaan. Hulle het hom egter geskiet en gevlug sonder om enigiets te vat.”

Mirriam sê haar broerskind is ’n gesinsman en het ’n dogtertjie (8). Die motief vir sy moord is nog nie bekend nie.

Die agterdog oor die motief vir sy dood spruit uit die intense interne struweling in die ANC in die Wes-Kaap, waar die provinsiale uitvoerende komitee die Dullah Omar-streek van die party in Kaapstad ontbind het.

Die Omar-familie het hulle verlede week gedistansieer van ’n optog na die parlement ter ondersteuning van pres. Jacob Zuma.

Die familie het ook in ’n brief aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee gevra dat Dullah Omar se naam verwyder word as dié van die streek in die Kaapstad-metro.

Latifa Omar, suster van die voormalige minister, het namens die familie gesê daar was in elk geval geen raadpleging met die familie oor die destydse hernoeming van die streek nie.

Die familie wil nie kommentaar lewer op dié bespiegelinge nie. Abdul Waheed Patel, die familie se woordvoerder oor die moord op Shaheed, sê hulle kan nie bespiegel nie.

Ons vra dat die media in dié tyd die familie se privaatheid respekteer en ons toelaat om te rou

“Ons vra dat die media in dié tyd die familie se privaatheid respekteer en ons toelaat om te rou.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Shaheed word na verwagting Vrydagmiddag om 15:30 vanuit die moskee in Mabelweg in Rylands begrawe.

Meer oor:  Kaapstad  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.