Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Is polisie dus beter? Uhm, nee

Die afname in sekere misdade is nie ’n aanduiding van goeie polisiewerk nie, maar van kwynende vertroue in die polisie wat maak dat mense misdade nie meer aanmeld nie, sê kenners.

Dr. Johan Burger

Uit die statistieke vir die boekjaar tot einde Maart wat Vrydag bekend gemaak is, blyk diefstal uit motorvoertuie het met 5,5% afgeneem, inbrake by huise met 6,7% en veediefstal met 4,2%.

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê die misdaadstatistieke weerspieël net aangemelde misdaad en gee nie die volle omvang van misdaad in die land weer nie.

Burger sê volgens peilings van Statistieke SA het die publiek se vertroue in die polisie die afgelope dekade met 10% afgeneem.

Luidens die misdaadstatistieke vir 2019-’20 het die getal moorde met 1,4% toegeneem teenoor die vorige jaar en roof met verswarende omstandighede met 2,8%.

“Soos dié syfers toeneem gaan mense se gevoel van veiligheid afneem,” sê Burger.

Ian Cameron, voormalige veiligheidshoof van Afriforum. Foto: Nico Gous

Ian Cameron, misdaadkenner en tot onlangs veiligheidshoof by AfriForum, stem saam oor die redes vir die afname in sekere misdade. Oor die afname in veediefstal sê hy: “Dit is nie as gevolg van goeie polisiewerk dat dié syfers afgeneem het nie. Boere is so keelvol gesukkel met die polisie, want die polisie kan byvoorbeeld nie eens ’n gesteelde selfoon terugkry nie.

“Mense rapporteer dit nie meer nie en meld dit bloot by hul versekering aan.”

Burger sê die polisie kan nie alleen vir die vertrouensbreuk verantwoordelik gehou word nie.

“Dit begin by ’n leierskapsprobleem; mense wat deel was van die staatskaping. Mense soos (die voormalige polisiekommissaris) Riah Phiyega en voormalige hoof van misdaadintelligensie Richard Mdluli is aangestel in topposte en het mense aangestel om misdadige opdragte uit te voer.”

Burger sê dit het die polisie se leiersposte afgetakel en die diens se vermoë om misdaadsindikate te infiltreer het byna verdwyn. Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, is darem ervare en op ’n “wankelrige manier doen hy nie te sleg nie”.

Hy sê lt.genl. Godfrey Lebeya, Valke-bevelvoerder wat ’n regs- en ’n doktorsgraad het, is besig om die misdaadsituasie in die land reg te ruk. “Dit gaan ’n ruk vat voordat die strukture weer optimaal funksioneer.”

Die feit dat die getal voorvalle in subkategorieë van roof, soos huisrooftogte, gedaal het, kan beteken polisiëring werp wel vrugte af, meen Burger.

Polisieteenwoordigheid moet volgens hom gekonsentreer word in probleemgebiede soos kruisings, waar misdade soos kapings gepleeg word. “As ons ’n bord kan opsit wat mense waarsku in ’n gebied waar kapings gereeld plaasvind, hoekom kan ons nie polisielede daar plaas nie?”

Cameron sê ’n fundamentele probleem is ’n gebrek aan kundigheid in die polisie. “Speurderkonstabels het nie soos in die ou dae mentors nie. ’n Konstabel stap in en kry 250 dossiere om te ondersoek.”

Hy sê die polisie kan groot sukses behaal met ’n misdaadintelligensie-eenheid.

Voorheen het die polisie informante gehad, maar dit het alles weggeval toe die spesialiseenhede ontbind is.

Meer oor:  Godfrey Lebeya  |  Ian Cameron  |  Johan Burger  |  Khehla Sitole  |  Statistieke Sa  |  Misdaad  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.