Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Jagter se vrou skiet haarself glo ná doodskote
Chrisna en Botes van der Merwe van Modimolle (Nylstroom) in Limpopo.Foto: Verskaf

Die weduwee van ’n beroepsjagter van Modimolle (Nylstroom) in Limpopo wat Woensdag van sy moord aangekla is, het haarself vermoedelik geskiet in die voorval wat aanvanklik na gesinsgeweld gelyk het.

Dít is wat die staat aanvoer in die akte van beskuldiging teen Chrisna van der Merwe (40) wat van die moord op haar man, Botes van der Merwe (48), aangekla word.

Botes is op 11 Desember verlede jaar dood in ’n skietery in die egpaar se luukse huis in die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle. Hy was die eienaar van Botes Hunting Safaris wat veral buitelandse jagters op jagtogte gevat het. Hy is drie keer met ’n 9 mm-pistool geskiet.

Een van die skote het hom in sy hart getref. Hy het doodgebloei in ’n slaapkamer in die egpaar se huis.

’n Dagvaarding is Woensdag op Chrisna beteken waar sy nou in Annlin in Pretoria woon.

Sy word ook van diefstal aangekla. Dié klag hou verband met R141 000 wat sy op 21 Desember 2018 by FNB glo uit Botes se bankrekening onttrek en in haar bankrekening inbetaal het. Dié geld is glo later na verskeie ander bankrekeninge oorbetaal.

Luidens die akte van beskuldiging was daar die aand van Botes se dood ’n braai by die egpaar se huis. Botes se een dogter, Celiné (21), uit ’n vorige huwelik en ’n vriendin was ook daar.

Chrisna “was glo buierig”.

Sy en Botes is later die huis in. Skote het geklap en die oorledene is gekry waar hy in ’n plas bloed in ’n slaapkamer gelê het. Hy is op die toneel dood.

Chrisna het ook ’n skietwond aan haar maag gehad. Sy is per ambulans na die St. Vincent-hospitaal in Bela-Bela (Warmbad) gevat van waar sy per noodhelikopter na die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion gebring is. Die staat voer aan dat sy haarself geskiet het nadat sy vir Botes geskiet het.

Dit was sowel Chrisna as Botes se tweede huwelik.

Adv. Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer in Modimolle, sê ’n dagvaarding is een van die prosesse wat gevolg kan word sodat ’n beskuldigde in die hof verskyn. Volgens hom het Chrisna nog nooit probeer om te vlug nie en daarom is sy nie in hegtenis geneem nie, maar gewaarsku om op Woensdag 13 November in die landdroshof in Modimolle te verskyn.

Inwoners van Modimolle was geskok oor Botes se dood. Chrisna is eers ná sy begrafnis uit die hospitaal ontslaan en is daarna op ’n seevakansie.

Botes is op sy begrafnis beskryf as “ ’n opregte, toegewyde, hardwerkende en professionele man. Hy is gerespekteer deur baie vriende, kliënte en familie.”

Botes het nog ’n dogter, Jane (18), uit sy eerste huwelik, wat verlede jaar in gr. 12 aan die Hoërskool Nylstroom in Modimolle was.

Sy twee dogters het in sy begrafnisbrief geskryf: “Ons gun Pappa die ewige rus by ons Hemelse Vader.”

Chrisna het ’n 17-jarige dogter uit ’n vorige huwelik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.