Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Jannie amper besteel in tyd van nood

Asof dit nie erg genoeg is dat hy groot skade ly weens die Covid-19-epidemie nie, het die musikant Jannie du Toit dié week so byna R4 000 in ’n telefoonslenter verloor.

Jannie du Toit saam met die tjellis Susan Mouton op die stoep van Jannie se gastehuis, Agterplaas, op 1 April 2019 toe die gastehuis 20 jaar oud was. Dis tans gesluit weens die koronavirus. Foto: Verskaf

Hy was bekommerd oor hoe hy die einde van die maand sy personeel gaan betaal by die Agterplaas-gastehuis in Mel­ville, Johannesburg, wat hy al 21 jaar besit. Nes ander gastehuise landwyd het hulle baie kansellasies gehad weens Covid-19.

“Boonop is die KKNK toe ook gekanselleer en so ook die Oppiwater Kunstefees. Albei is groot bronne van inkomste vir my. Ek moes toe ’n plan maak. Ek het ’n foonboodskap gekry wat gesê het die finansieringsmaatskappy DirectAxis wil help in die tyd van nood deur ’n spesiale lening teen ’n rentekoers van net 5%.

“Dit het onmiddellik my aandag getrek, veral ook omdat jy die lening vroeër kon aflos. Dit was presies wat ek nodig gehad het,” vertel hy. “Ek moes geweet het dis te goed om waar te wees.”

Hy het aansoek gedoen en dis goedgekeur.

‘Gelukkig het ek dit betyds uitgevind.’

Rapport het die dokumente gesien wat aangestuur is en dit lyk wettig, kompleet met DirectAxis se logo op.

“Om die lening te kry moes ek R3 999 aan regskoste betaal. Nou klink dit vir my vreemd, maar in daardie stadium het ek nie daaraan gedink nie omdat ek so baie goed gehad het om te doen en alles wettig gelyk het,” vertel Du Toit.

Hy het ’n navraag gehad en toe sy kontakpersoon, Juanita Meyer, glo die direkteur van leningsaansoeke, nie die telefoon antwoord nie, het hy DirectAxis se nommers op hul webblad gekry. Dis toe dat hy, per geluk, by die regte DirectAxis uitkom en konsultante vir hom sê dat hy glad nie op hul databasis of stelsel is nie.

“Hulle het intussen aan my bevestig dis ’n slenter en hulle is bewus van die scam. Gelukkig het ek dit betyds uitgevind. Nou wil ek soveel as moontlik mense waarsku dat ander nie ook deur die slenter gevang word nie.

“Ons almal betree nou ’n baie moeilike ekonomiese tydperk en dis veral kleinbesigheidsmense soos ek wat dit gaan voel,” sê Du Toit.

Hy sê hy weet dat hy van die begin af skepties moes gewees het.

“Maar ek het nog nie voorheen sulke lenings uitgeneem nie, so ek het nie geweet hoe dit veronderstel is om te werk nie. Mense moet juis nou versigtig wees, want ek vermoed daar is baie sulke kansvatters.”

Hy sê hy gebruik sy 21 dae in isolasie by die huis om te fokus op ’n vertoning wat hy aanmekaar sit vir vroeg volgende jaar om sy 50 jaar as Afrikaanse sanger te vier.

Meer oor:  Jannie Du Toit  |  Covid-19  |  Slenter  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.