Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Jannie du Toit aangeval ná Aardklop-bekendstelling
Jannie du Toit en sy vrou, Therina Wentzel, in die hospitaal nadat hy vroeër die aand met 'n mes aangeval is. Foto verskaf

“Ek vat hierdie een vir liewe Madiba,” sê die sanger Jannie du Toit wat Woensdagaand in Johannesburg aangerand en met ’n mes gesteek is.

Du Toit het die bekendstelling van die Aardklop-kunstefees bygewoon in die Market Square-teater in Newtown toe hy op pad huis toe aangeval is.

“Dit is maar deel van ons land en soms moet jy dit in die gees vat. Dit is erg om te dink dat dit op Mandela-dag gebeur het, maar ek weet dit is nie die tipe land wat hy wou hê nie. Dit is mense wat sulke goed doen,” het Du Toit uit die Milpark-hospitaal se ongevalleafdeling gesê.

Hy was omstreeks 21:00 op pad na sy voertuig in die parkeerterrein, toe ’n man hom van agter gegryp het.

“Ek was seker so 20 meter van die parkeerplek toe ek voel iemand gryp my om die nek. Ek het hom nog so ’n lekker hou met die kop gegee voordat ons grond toe geval het en begin stoei het. Toe ek weer opstaan, het ek vir hom gesê hy kan die blêrrie foon vat, maar toe steek hy my in die been. Ek onthou ek het hom nog swaer genoem en met hom in Afrikaans gepraat,” sê hy.

Dit is maar deel van ons land en soms moet jy dit in die gees vat. Dit is erg om te dink dat dit op Mandela-dag gebeur het . . .

Du Toit is twee keer in die been gesteek. Coenraad Rall, sy vriend en pianis wat gereeld saam met hom speel, het hom in sy motor gelaai en hospitaal toe gejaag.

Die akteur Terence Bridgett het Du Toit se voertuig teruggeneem na die Agterplaas B&B, sy gastehuis in Melville.

“Daar was mense wat gesien het wat gebeur het en my onmiddellik te hulp gesnel het. Toe ek weer kyk, het 30 mense om my gestaan. Hulle het blykbaar die ou vasgetrek, maar my selfoon is daarmee heen. Hy (die aanvaller) of sy pêl het seker gescore,” sê het Du Toit.

Therina Wentzel, Du Toit se vrou, het gesê hy moes altesaam vyf steke kry. Twee in ’n vlak wond en drie in ’n dieper “leliker” wond. Sy was by die gastehuis toe sy die oproep ontvang dat Du Toit by die hospitaal is.

“Dit lyk terrible. Ek weet nie eintlik wat om te sê nie. Die verpleegsters het nou vir hom ’n hospitaalrok gebring, want hy gaan beslis nie weer sy broek kan dra nie, daar is soveel bloed. Ek is net bly Jannie is oukei en positief,” het sy gesê.

Delmari van Zyl, ’n woordvoerder vir Aardklop, het gesê hulle is bly Du Toit is versorg.

“Van Aardklop se kant af, is wat gebeur het ’n slegte insident, maar ons is net regtig bly dat Jannie versorg is,” sê Van Zyl.

Meer oor:  Jannie Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.