Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Jare van ma se hel eindig in moord

Betsie Warne wou met alle mag en moederliefde haar 31-jarige seun, Richard, red, want hy was aan tik en Mandrax verslaaf. Hy was al wat dié 60-jarige makelaar van Gordonsbaai oorgehad het nadat haar enigste dogter in 2011 aan ’n oordosis pille dood is en haar man hom in 2014 gehang het.

Salomie Graham in die kamer waar haar suster Betsie Warne vermoor is. Foto: Edrea du Toit

Maar Richard wou van “red” niks weet nie en het sy ma verwurg en haar kop met ’n baksteen ingeslaan.

Rapport het die afgelope week in die meenthuis in Gordonsbaai wat Richard soms met sy ma gedeel het vir Salomie Graham ontmoet om oor die skokdood van haar vermoorde suster te praat.

Waar Graham langs Richard se bed staan, breek sy soos sy praat. By haar voete lê grys en wit klippies wat Richard glo op sy ma se hoof geplaas het ná haar dood.

Die polisie het die bebaarde en verslonste Richard verlede Vrydag singend en met blomme in sy hand aangetref kort ná sy jongste en finale uitbarsting in Durmont-straat in die Sea Breeze-buurt van Gordonsbaai.

Hy het die hond gevat en hom teen die dak gegooi.

Bure het die polisie ontbied nadat hulle vroeër gehoor het hoe hy skree: “This f****n woman is dead. Phone the police!”

Vrydag het Graham vir Rapport Richard se spoor van verwoesting by sy ouerhuis gewys. Hy het die wendyhuis afgebrand en gate in die dak van die buurvrou se huis geslaan.

Dit was egter binne die tweeslaapkamer-baksteenhuis waar hy jare lank die lewe vir sy enkelma hél gemaak het, sê Graham.

“Op ’n tyd het hy ‘mense’ in die dak gehoor en toe in die dak geslaap. Sy ma het hom destyds geld gegee vir ’n vakansie in Katmandoe (in Nepal), waar hy ’n tempel wou besoek en sy lewe regruk. Toe kom hy terug met niks . . . Hy het onder ’n tafel in sy ma se tuin kom bly, al sy bollie-dinge daar gedoen. Jare se absolute nagmerries het gevolg. Sy nag en dag was omgeruil: bedags slaap, snags ’n pad van selfvernietiging, pornografie kyk en videospeletjies.

Betsie Warne en Richard in 2011.

“Hy het sy ma uit haar kamer gewerk, na die ander slaapkamer en uiteindelik na die rusbank in die voorhuis. Van daardie posisie het sy escape-roetes gehad.”

Betsie het ook in ’n stadium haar seun probeer help deur ’n onderneming vir hom te registreer en ’n motor vir hom te koop, maar hy het al hierdie bates met minagting misbruik.

“Richard het alles wat vir haar mooi en belangrik was, vernietig. Hy het hierdie obsessie met drade gehad, die aircon vernietig, die boute uit die dak gehaal, dit met kerse gebrand.”

Graham speel van Betsie se stemboodskappe vir ons op haar selfoon. Hierop smeek sy om hulp. Sy sê sy moet veiligheidshalwe in haar motor slaap. By tye hoor jy net rou snikke, uitroepe.

Richard het alles wat vir haar mooi was, vernietig.

Richard is die afgelope tien jaar vonnisse vir winkeldiefstal, aanranding, roof en huisbraak opgelê.

Sy pa, Michael, was volgens Graham ’n tyd lank aan dwelms verslaaf en ’n stigterslid van Safety Net, ’n organisasie wat dwelmverslawing beveg. Hy het homself in 2014 gehang.

Richard se suster, Shereé, was ook ’n dwelmverslaafde. Sy is in 2011 aan ’n oordosis pille dood. Sy was 21 jaar oud.

Betsie, ’n makelaar, moes soms tuis bly om na Richard om te sien. Hy was in en uit die Polls­moor-gevangenis. Toe stuur die hof hom na ’n rehabilitasiesentrum in Graaff-Reinet, maar hy het op die vlug geslaan.

Betsie het hom in die buitekamer geplaas en ’n veiligheidshek laat aanbring.

Graham sê haar suster is soms onder dwang saam met haar seun wanneer hy dwelms gaan koop het. Dan sluit hy haar toe in die motor. Op ’n keer het hy sy ma se neus in die verbystap met ’n allemintige hou gebreek. ’n Beskermingsbevel kon hom nie keer nie.

Richard met sy inhegtenisneming.

Toe sit Betsie vir Richard uit die huis en plaas hom in ’n hostel daar naby, waar hy ’n hemelhoë drankrekening opgejaag het en uitgeskop is. Toe slaap hy by die haweloses op die Spur se parkeerterrein.

Drie weke gelede het Betsie hom finaal die huis belet.

“Van die bergies vertel hy het verlede Vrydag nog gesê as sy ma nie daardie aand vir hom geld gee nie, vermoor hy haar. Daar was ook vorige doodsdreigemente as sy sou polisie toe gaan.

“Sy het hom in die laaste weke nog kos deur die veiligheidshek gegee. Die bottel koeldrank kon nie deur die hek nie, dan moes sy die hek vinnig oopsluit.

“Ek dink verlede Vrydag moes hy só in die huis gekom het.

“Betsie het nog onlangs gesê sy kan nou verstaan hoekom Ellen Pakkies haar dwelmverslaafde seun met haar eie hande vermoor het,” sê Graham.

Langs haar staan haar dogter, Jacoline Bezuidenhout.

“Tannie Betsie was aan die einde net ’n leë dop, uitgemergel deur Richard.”

’n Klipgooi van die moordhuis sit Betsie se beste vriendin, Maggie Uys, in die tuin van haar dorpshuis. ’n Pakkie sigarette lê op die tuintafel. Sy huil en bewe as sy oor Betsie se “hel van ’n lewe” praat.

“Richard het die hond gevat en hom teen die dak gegooi. As hy moeilik was en sy oë raak so donker, het sy my met ’n kodewoord geWhatsApp: ‘Haai jy moet kom kuier jong.’

“Richard was ’n saggeaarde, intelligente kind, maar het verander in ’n absolute gevoellose monster. Hy het twee jaar lank nie gebad of geskeer nie. Sy gunsteling roepnaam vir sy ma was You’re my bitch. Ek het nagte omgesit by haar.

“Betsie was ’n ma wat onwrikbaar lief was vir haar seun. Sy het ook geglo hy sal nooit aan haar vat nie. Die laaste tyd was sy egter vreesbevange. Sy het elke dag gesê hy gaan haar doodmaak. Die middag voor haar dood het sy vergeefs by die polisie gaan hulp soek.”

Richard sal Vrydag om borgtog aansoek doen.

* Die fliek Ellen, Die Ellen Pakkies-storie het Vrydag in teaters landwyd begin draai. Pakkies, ’n ma van die Kaapse Vlakte, het in September 2007 haar tikverslaafde seun Abie vermoor nadat hy haar lewe hel gemaak en haar onder meer met ’n tou verwurg het.

* Lees ook Leon van Nierop se resensie van die fliek hier.

Meer oor:  Verslawing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.