Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Jong ma van Beaufort-Wes in huis vermoor
Anthea Thopps Foto: Facebook

Anthea Thopps (30) het sowat twee maande gelede, nadat haar tannie dood is, by dié se huis in Renierstraat, Beaufort-Wes, ingetrek, en Sondagoggend is haar halfkaal lyk in die huis gevind.

Bure het Sondagoggend haar ma, Miriam Thopps, laat weet dit lyk asof daar ingebreek is by die huis waar Thopps twee huise van haar ouerhuis af woon.

Die voordeur het half oopgestaan.

Miriam is na die huis om te kyk waar haar tweede oudste dogter is.

Dit was reeds ná 12:00. Sy het haar dogter se lyk op die vloer in die huis gekry. Haar onderlyf was kaal en sy het net ’n T-hemp aangehad. Die jong ma van ’n driejarige seuntjie, Shaye, was reeds dood, haar lyk yskoud.

Thopps se tannie Geraldine Thopps sê hulle vermoed dat sy ook verkrag is.

“Haar ma het toe sy op haar lyk afkom, aan haar gevat, maar sy was reeds yskoud. Sy het na buite gehardloop en mense gevra om die polisie te bel.”

Geraldine het Maandag gesê die polisie het vir hulle gesê dat die ondersoek by die huis afgehandel is.

“Die lykskouing word Dinsdag gedoen. Ons sal dan weet hoe sy dood is.”

Geraldine sê hul familie is gebroke. “Haar ma het op haar lyk afgekom. Anthea was soos ’n kind vir my. Sy en my oudste dogter was soos susters, hulle het saam grootgeword.”

’n Bron op die dorp sê Thopps se hande was vasgemaak en dat sy vermoedelik met ’n skoenveter verwurg is.

Geraldine sê hulle weet nie of sy vasgebind was nie. “Haar ma het net aan haar lyk gevoel en toe sy besef sy is dood, het sy om hulp gaan soek. Sy het nie gekyk of sy vasgemaak is nie.”

Die bron het ook gesê dat die polisie ’n man wat sowat twee weke gelede uit die tronk vrygelaat is, vir ondervraging in verband met Thopps se dood ingeneem het. Haar selfoon is glo in Klipblomstraat in die man se besit gevind, ’n hanetree van die huis waar Thopps se lyk gevind is.

Navrae is aan die polisie gerig en dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Anthea Thopps  |  Beaufort-Wes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.