Die adjunkminister van polisie wil meer jong mense oor die land heen betrek om misdaad te beveg.

Bongani Mkongi, adjunkminister van polisie, en Pantsi Obusitse, voorsitter van Wanya Tsotsi, kyk na die wapens wat by misdadigers afgeneem is. Foto: Charné Kemp
“Dié jong misdaadvegters moet hulle besig hou met sake wat werklik jong mense se lewe ten goede kan verander,” het Bongani Mkongi Woensdag in Kimberley gesê.
Hy het honderde pakke dagga, speelgoedgewere, onwettige sigarette, messe, horings en byle in ontvangs geneem wat Wanya Tsotsi, ’n buurtwag in Galeshewe, van misdadigers afgeneem het.
Mkongi se besoek het aan Wanya Tsotsi meer erkenning gebring op ’n tydstip wat die samewerking met die polisie nie altyd klopdisselboom is nie.
“Wanya Tsotsi doen goeie werk. Hulle is nie polisielede nie, maar staan die polisie by.
“Die wapens wat hulle afgeneem het, sal deur die polisie vernietig word.
“Die aantal messe en dwelms wat afgeneem is, is kommerwekkend. Ons kan nie langer met dwelmslawe en misdadigers saamleef nie.
“Die gemeenskap en polisie moet in ieder geval saamwerk om misdaad te beveg.
“As buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums saamwerk, kan dit net goeie gevolge inhou.

Wanya Tsotsi, ’n buurtwag in Kimberley, het etlike wapens, dagga en ander gereedskap wat misdadigers gebruik, aan die adjunkminister van polisie oorhandig. Foto: Charné Kemp
“Ek wil ’n nasionale jeugbeweging stig wat misdaad vrywillig beveg. Niemand gaan vir toelae werk nie.
“Ons wil deur die beweging deure oopmaak sodat jong mense hul vaardighede en opleiding kan verbeter.
“Dit sal help om jeugmisdaad te verminder.
“Hulle moet ook deur die jeugontwikkelingsagentskap ekonomiese geleenthede gegun word om hul eie besighede te bedryf.
“Sportdeelname en ’n bewustheid van erfenis onder jeugdiges moet bevorder word. Vervulde en gesonde jong mense hou die toekoms in hul hande.”
Pantsi Obusitse, Wanya Tsotsi-voorsitter, sê hulle probeer hard om goed met die polisie saam te werk.
“Ons moet soms mense in hegtenis neem, maar die polisie is nie altyd beskikbaar om dit te doen nie. Ons is bly die adjunkminister het kom kyk wat ons doen.”
Obusitse het ook kospakkies aan behoeftige gesinne in die armste wyke van Galeshewe uitgedeel.
Lt.genl. Risimati Shivuri, provinsiale kommissaris, sê die polisie en die LUR vir vervoer en veiligheidskakeling gaan binnekort begin om lede van Wanya Tsotsi en ander vrywilligers as reserviste op te lei.
“Dit is verblydend dat gemeenskappe saam met ons misdaad wil uitroei.”