Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Jong vrou van Bfn kom inbreker met sy eie wapen by

’n Jong vrou van Bloemfontein wat Sondagoggend vroeg in haar kamer in haar ouerhuis aangeval is, het ’n inbreker met sy eie stuk yster gejaag en hom laat les opsê.

Die inbreker se slagoffer was toe nie so inskiklik soos wat hy gehoop het nie.

Carmen Smith (21) van Bloemfontein se neus en voorkop is beseer toe ’n inbreker haar Sondagoggend met ’n tipe “duiwelsvurk” aangerand het.

Hy kan boonop sy sterre dank dat hy uit die huis kon kom, want die 21-jarige Carmen Smith het gesê hy het “ongelukkig” weggekom. Dit nadat sy hom ’n hele paar houe gegee het. “Ek het hom gem**r!”

Dit blyk dat vermoedelik meer as een rower omstreeks 02:00 by die huis in Cleggsingel, Universitas, ingebreek het. Die voordeur en ’n veiligheidshek is oopgebreek.

Smith, ’n ontvangsdame, het wakker geword van haar kamerlig wat brand. Haar 12-jarige sussie, Lisa, het by haar in die kamer geslaap en ook wakker geskrik.

Sy was op die punt om op te staan om die lig af te sit toe ’n man skielik orent spring en hulle beveel om stil te bly en hul oë toe te maak.

Lisa het gehoorsaam, maar haar ouer suster het geweier en die inbreker het haar met ’n stuk yster, wat soos ’n “duiwelsvurk” lyk, oor die kop geslaan en probeer om komberse oor haar kop te gooi.

“Hy het langs my kom staan en weer die beddegoed oor my kop probeer gooi, maar ek het gekeer. Hy het my oor my neus geslaan. Toe gryp ek die yster en begin gil. My sussie het ook gegil. Toe hardloop hy weg.

“Ek het hom agternagesit en by die voordeur probeer vaskeer. Ek het hom geslaan. Ek het hom ’n paar houe gegee. Ek het hom gem**r!” sê sy.

So lyk die stuk “duiwelsvurk” waarmee die inbreker Carmen Smith (21) in haar kamer aangeval het.

Haar sussie het gehoor hoe die man iets vir iemand by die venster sê. Die gesin vermoed dus dat hy nie alleen was nie. ’n TV, skootrekenaar en twee selfone is gesteel terwyl die voortvlugtende inbreker met niks by die huis uit is.

“Die mense kan mos nie net by in die huis inkom en maak wat hulle wil nie. Hulle kan nie net vat wat hulle wil en ons moet niks doen nie. Hulle het geen reg om in die huis te kom nie. Dit is nie cool nie.

“Hulle het hulself gemaklik gemaak en het selfs kos uit die yskas gevat. Toe kom hy vir my. Dit gaan meer as net ’n stuk yster vat om my te keer om terug te baklei. Ek is bly ons is nie ernstig beseer nie,” sê Smith.

Benewens die hou oor haar neus het sy skraapmerke aan haar voorkop en nek.

Volgens lt.kol. Thaba Covane, polisiewoordvoerder, het die rower gedreig om hul ouers dood te maak as die susters sou skreeu.

’n Saak van huisroof word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Carmen Smith (21) het ’n inbreker wat haar in haar kamer aangeval het, met sy eie wapen bygedam.
Meer oor:  Carmen Smith  |  Bloemfontein  |  Misdaad  |  Inbreker  |  Wapen  |  Aangeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.