Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Jou stem is stil, maar ons herinneringe sal nie verdwyn’

Medelye oor die dood van Renée Jain, ’n inwoner van die De Vierde Liefde-landgoed naby Wolseley in die Boland, het sedert Saterdagoggend ingestroom nadat dit bekend geword het dat sy vermoor is.

Jain is Vrydagaand in haar huis deur drie rowers oorval, vasgebind en beroof. Hierna het die rowers na ’n tweede huis op die landgoed in die Wolseley-omgewing gegaan en ’n ouer egpaar vasgebind, aangerand en beroof.

Renée Jain Foto: Facebook

Cathy Bruyns, Jain se ma, het Sondag gesê dit voel steeds onwerklik en sy en Renée se man, Raj Jain, is nog besig om die trauma te verwerk.

Die polisie het vroeër gesê die voorval was Saterdag omstreeks 03:30, maar het intussen gesê dat dit Vrydag omstreeks 23:00 was.

Net Jain se selfoon en skootrekenaar word vermis.

Die rowers het toegang tot die landgoed deur die wingerde gekry en by Jain se huis ingebreek.

Sy het geslaap en is deur die rowers wakker gemaak.

Bruyns sê die rowers het haar hande en voete vasgebind en iets oor haar neus en mond gebind.

Raj en Renée Jain. Foto: Facebook

Bruyns en Raj het Sondag haar lyk by die lykshuis gaan uitken en nadat hulle met die patoloog gepraat het, blyk dit Jain het versmoor. Sy het enkele kopbeserings gehad.

Die ouer egpaar van die ander huis waarop die rowers toegeslaan het, is aangerand en ook vasgebind. Die rowers het hul voertuig gesteel. Intussen het die polisie die voertuig in Tulbagh opgespoor en forensiese ondersoek sal hopelik meer lig werp op wie die rowers is. Die identiteit van die egpaar is nie bekend nie.

Kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het Sondag gesê die ondersoek duur voort.

Raj het Vrydagaand in die stad oorgeslaap omdat hy werk moes afhandel en sou Saterdag terugkeer na sy vrou.

Jain was ’n IT-kenner en ’n saketoepassingsbestuurder vir Cape Union Mart en was lid van die adviesraad van die Fedisa-mode-akademie.

Fedisa het op hul Facebook-blad gesê hulle is “verpletter deur die afsterwe van ons vriend, kollega en lid van die adviesraad, Renée Jain”.

Renée Jain en haar ma, Cathy Bruyns. Foto: Facebook

“Jou stem is stil, maar ons herinneringe sal nooit verdwyn nie.”

Op Jain se Facebook-blad is daar ook deur vriende en kennisse medelye uitgespreek.

Bronwyn Schutte het geskryf: “Oh Renée, ek is verpletter en hartgebroke. Jy is te vroeg weggevat. Herinneringe van ’n gelag en goeie tye saam kom in oorvloed terug. Ek sal nooit jou lig en liefde vergeet nie.”

’n Ander vriend, Nicky Kirsten, het gesê die wêreld het ’n ongelooflike, wonderlike en inspirerende vrou verloor.

“Van die eerste dag op Stellies (Stellenbosch) is ons almal deur jou mooi siel en persoonlikheid geraak. Rus in vrede wonder woman.”

Jain was die dogter van Cathy Bruyns en wyle André (Bakkies) Rossouw. Hy was ’n redakteur van Sarie, ’n assistentredakteur van Huisgenoot en ook lank die skrywer “Van alle kante”, ’n rubriek in Die Burger.

Bruyns en Rossouw het het twee dogters gehad. Hul ander dogter, Nicci, is aan bloedkanker oorlede.

Bruyns het lank ’n bekende bloemiste-winkel in Langstraat in Kaapstad gehad, Aspen Flowers, wat later deur Nicci oorgeneem is.

Renée en Raj is in 2007 getroud. Hulle het nie kinders nie.

’n Gedenkdiens word vir Woensdag gereël.

Pogings om met die hoof van die De Vierde Liefde-huiseienaarsvereniging, Hans de Bruijn, te praat, was onsuksesvol.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.