Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Julle sal ons wel sien op Vlakte’

‘Die weermag is nie soos die politici nie. Ons kondig nie aan ons is drie-uur môreoggend in die bendegeteisterde gebiede nie,” sê die weermagwoordvoerder brig.genl. Mafi Mgobozi.

Farouk en Masnoena van der Rheede van Manenberg by die kruis van ’n onbekende vrou wat gesterf het ná ’n bendeverwante skietery. Foto: Edrea du Toit

Dit is sy verduideliking oor waarom daar gister steeds geen soldate gewaar is in die tien buurte op die Kaapse Vlakte waar die weermag ontplooi sou word nie.

Die polisieminister, Bheki Cele, het Donderdag in die parlement te kenne gegee die eerste ontplooiing van soldate in die Steenberg-distrik het reeds begin.

Cele het gesê die weermag gaan voorlopig vir drie maande ondersteuning aan die polisie gee in ’n grootskaalse ingrypingsoperasie om ’n einde aan geweldsmisdaad op die Kaapse Vlakte te bring.

Ek het ’n klomp kleinkinders. As die skote klap, moetons hardloop.

Sy aankondiging het gevolg nadat 11 mense, ses van hulle vroue, verlede week in Philippi doodgeskiet is. Onder die slagoffers was ’n gr. 11-leerling, Lelehu Njikazi.

Maar die weermag is nie beïndruk met die minister se openhartigheid nie.

Mgobozi het Saterdag aan Rapport gesê dis die weermag se grootste probleem dat mense voorspel en uitbasuin waar die weermag ontplooi gaan word.

Die weermag se prioriteit is om sy lede te beskerm en daarom kry hulle op die oomblik opleiding om hulle op die sending voor te berei, sê hy.

’n C130 Hercules-vliegtuig op die Upington-lughawe met die eerste groep soldate van 8 SA Infanteriebataljon.

“Meneer Cele het geen gesag oor ons nie – al sê hy die weermag sal 03:00 môreoggend in die gebied wees... Ons gaan aan met ons prosesse. Mense sal ons sien wanneer ons op die grond is,” het Mgobozi gister gesê.

Hy het wel bevestig dat die grootste gros soldate wat ontplooi word uit Upington “en ander streke” kom.

Die eerste vliegtuie met soldate het Vrydag op die Ysterplaat-lugmagbasis geland.

Cele was intussen gister in die Paarl besig met ’n tweedaagse provinsiale beraad oor die stryd teen misdaad. Die beraad is bygewoon deur 500 afgevaardigdes onder wie die minister vir maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu. Die doel is om ’n geïntegreerde plan teen misdaad op te stel.

Volgens ’n inwoner van St. Christopherlaan, Lavender Hill, is hier by die Nyala en hakiesdraad, waar ’n satellietstasie ingerig is, nooit enige polisielede op te merk nie. Foto: Edrea du Toit

Intussen, terwyl die inwoners die ure aftel totdat die groot operasie begin, het die mense van Delft gisteroggend die lyk van ’n 27-jarige man tussen die plakkershutte in Blikkiesdorp gekry. Hy is in die kop en lyf geskiet. Nog ’n vrou is gewond, vermoedelik in dieselfde voorval, en ses plakkershutte is afgebrand.

Maar dit gaan die afgelope twee dae beter in Lavender Hill, sê Estelle in Christopherstraat. Ons mag nie haar volle naam noem nie, vra sy. Hier regeer vrees.

“Ek het ’n klomp kleinkinders. As die skote klap, moet ons hardloop.”

Daar was minder skietery sedert Donderdag, sê sy. Maar vanoggend moes sy weer die kinders in die huis invat.

“Die bullets kan mos tot in die huis . . .”

Soos talle ander inwoners is Estelle in elk geval nie seker of die weermag hulle gaan red nie.

“Soos ek verstaan is hulle nie opgelei om bendes te vat nie.”

Maar in Bishop Lavis sê Anthea Kouter die leër moet nou kom.

“Want as dit vyfuur word, moet ons in ons huise in. Die kinders is nie veilig met al die skietery nie. Die leër moet die polisie kom bystaan, want hulle kry niks uitgerig hier nie.

“Ons is net bang die leër doen iets aan ons,” voeg sy dan half bekommerd by.

In Manenberg maak die gemeenskapsgroep Bekommerde Inwoners van Manenberg planne om môreoggend ’n menseketting in Duinefontein- en Klipfontein-weg te vorm.

Hulle het klaar die slagspreuke geskryf, sê Shamiela Edwards: “Neem ons strate terug” en “Stop die moorde”.

Maar eers moet hulle nog ’n nag oorleef in die lêplek van die bendes.

* Die gebiede waar die leër volgens Cele ontplooi gaan word, is Bishop Lavis, Mitchells Plain, Delft, Elsiesrivier, Nyanga, Khayelitsha, Mfuleni, Philippi, Kraaifontein en Manenberg.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Kaapse Vlakte  |  Weermag  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.