Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kaapse gelowiges hou optog teen geweld
Geloofsleiers in Kaapstad stap Sondagmiddag voor tydens ’n optog in Parow teen geslagsgeweld en verkragting, waar geregtigheid vir Jesse Hess (19) geëis is. Foto: Malherbe Nienaber

Gelowiges en geloofsleiers het Sondag daarop aangedring dat die polisie met daadwerklike planne vorendag kom om geslagsgeweld en misdaad te bekamp tydens ’n optog in Parow, Kaapstad.

Sowat 100 mense van verskillende gelowe, rasse en ouderdomme het die middag voor die Parow-polisiekantoor byeengekom en geregtigheid geëis vir Jesse Hess (19) en ander slagoffers van geweld in die land.

Enkele politici het hulle ook by die optog aangesluit wat deur die Service and Allied Workers Union of South Africa (Sawusa) gereël is.

Hess, ’n teologiestudent aan die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK), en haar oupa Chris Lategan (85) se lyke is op 30 Augustus in hul woonstel in Victoriastraat in Parow gevind.

Jesse Hess. Foto: Facebook

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Van die leiers het gedurende die optog gesê dit is onaanvaarbaar dat niemand al vasgetrek is in verband met die moord op Hess nie, veral nadat deurbrake gemaak is in ander hoëprofielsake waar vroue in Kaapstad vermoor is.

Nadat ’n memorandum by die polisiekantoor oorhandig is, het die groep in Voortrekkerweg tot by Hess se woonstelgebou gestap en saamgekom vir gebede, sang en toesprake.

Met die groep se aankoms by die polisiekantoor om 15:20 is hulle in kennis gestel dat die stasiebevelvoerder nog op pad is om die memorandum te kom ontvang.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het toe aangebied om die memorandum self aan die provinsiale polisiekommissaris te oorhandig.

Onderweg na die Beaumont Court-woonstelgebou het die groep op plekke gestop en het Christelike en Moslemleiers gebid, onder meer om die gebied te reinig van misdaad, geweld en dwelms.

Kaapse geloofsleiers staan Sondag voor die Parow-polisiekantoor in Kaapstad, saam met Dan Plato, burgemeester van Kaapstad. Foto: Malherbe Nienaber
Sowat 100 mense het Sondagmiddag aan ’n intergeloof-optog vir geregtigheid vir Jesse Hess (19) in Parow, Kaapstad deelgeneem.Foto: Malherbe Nienaber
Gelowiges en geloofsleiers het Sondagmiddag byeengekom voor die woonstelgebou in Parow, Kaapstad, waar Jesse Hess (19) en haar oupa se lyke op 30 Augustus gevind is.Foto: Malherbe Nienaber

Intussen is ’n aanlyn fonds geskep om R50 000 in te samel om ’n private speurder aan te stel om Hess en haar oupa se dood te ondersoek. 

Luidens die inskrywing op die webwerf Backabuddy  was die aanstel van ’n private speurder deurslaggewend in die inhegtenisnemings in  die moordsake van Meghan Cremer en Uyinene Mrwetyana in Kaapstad.

Teen Sondagaand is daar R2 710 ingesamel.

Hess se lyk is verlede maand in die slaapkamer gevind en Lategan se lyk in die badkamer, met sy hande wat agter sy rug vasgebind was.

Twee televisiestelle, sowel as Hess se handsak en haar selfoon is gesteel.

Meer oor:  Geweld Teen Vroue  |  Gendergeweld  |  Jesse Hess
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.