Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kaapse student doodgery toe hy skelms agternasit

’n Kaapse student en deeltydse kelner wat Maandagaand selfoondiewe agtervolg het, is dood toe hy onder die wiele van die skelms se voertuig beland het.

Braden Cannoo
Wyle Braden Cannoo (22), wat by Jakes-restaurant in Steenberg Village gewerk het. Foto: Nina Devlin Facebook

Braden Cannoo (22) van Lakeside, wat by Jakes-restaurant in Tokai, Kaapstad, gewerk het, is op sosiale media as die jong slagoffer geïdentifiseer.

Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van moord en diefstal.

“Volgens inligting het drie mans en ’n vrou omstreeks 19:30 by die restaurant in Steenberg Village (’n winkelsentrum) ingestap. Die vier het voorgegee dat hulle klante is, maar het uitgeloop voordat hulle by ’n tafel aangesit het. Oomblikke later is opgemerk dat een van die werknemers se selfone gesteel is.”

Rwexana sê die kelner het die diewe agternagesit.

Braden Cannoo (22) Foto: Jakes Restaurant Facebook
Hy het altyd absoluut enigiets gedoen om iemand in nood te help, selfs om sy lewe te gee.

“Die drie mans het in ’n Avanza gespring, maar die vrou het agtergebly. Die kelner het toe op die enjinkap van die boewe se voertuig gespring terwyl hulle probeer wegkom het, en hy is van die voertuig afgeslinger. Die voertuig het oor die kelner gery en hy is vir ’n ent agter die voertuig aangesleep.”

Rwexana sê die voorval het in Reddamlaan plaasgevind en die jong man is op die toneel aan sy beserings dood.

Die vroulike verdagte is op ’n aanklag van diefstal van ’n selfoon in hegtenis geneem.

“Speurders van Kirstenhof ondersoek ’n saak van moord. Enigiemand met meer inligting word versoek om sers. Brink by 021 702 8900 of die bevelvoerder kapt. Alexander by 082 469 2578 te bel.”

Die Facebook-inskrywing van Braden Cannoo se vriendin. Foto: Nina Devlin Facebook

Nina Devlin, Cannoo se meisie, het ’n hartverskeurende boodskap op Facebook geplaas waarin sy sê: “Braden Angus Cannoo is op Maandag 3 Augustus buite Jakes, Steenberg, vermoor terwyl hy probeer het om ’n geringe onreg reg te stel en ’n vreemdeling te help. Hy is ’n held. Hy was 22 jaar oud, gebore op 07/11/97. Hy was ’n Wynberg-seun. Hy het deeltyds as kelner by Jakes gewerk terwyl hy bedryfsingenieurswese studeer het.

“Hy was die vriendelikste en ’n barmhartigste mens wat ek geken het. Daar word grappenderwys na hom verwys as ’n ‘moeder’ omdat hy altyd vir almal omgegee het. Hy het altyd absoluut enigiets gedoen om iemand in nood te help, selfs om sy lewe te gee. Die wêreld het ’n werklik mooi mens verloor. Hy was my beste vriend, my eerste liefde en my hart vir 4,5 jaar. Ek is lief vir jou, Braden Cannoo. Vir ewig en ewig, maak nie saak wat nie, net soos ons belowe het.”

Devlin het ook haar innige meegevoel uitgespreek met Cannoo se familie, veral sy gebroke ouers, Steve en Heatherlee, en sy kleinsus, Morag.

Intussen het David Ellis, eienaar van die restaurant, op sosiale media hulde gebring aan die jong man.

Ellis was by navraag nie beskikbaar nie en was glo besig met ’n vergadering oor berading vir personeel van die restaurant.

RIP Braden ??

Posted by Jakes Restaurants on Tuesday, 4 August 2020
Meer oor:  Mosselbaai  |  Doodgery  |  Selfoon  |  Dief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.