Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kaapse Vlakte loop deur onder plunderaars
Inwoners van Heinz Park en New Woodlands het Woensdag die polisie op die R300 uitgetart. Hulle was op pad na die Watergate-winkelsentrum waar hulle glo van plan was om winkels daar te plunder. Foto: Jaco Marais

Elsiesrivier, Delft, Mitchells Plain, Lotusrivier en Belhar was enkele gebiede in Kaapstad waar inwoners Woensdag onder die vaandel van honger winkels geplunder het.

’n Gewapende polisielid op die toneel in Heinz Park. Foto: Jaco Marais

Die polisie het Woensdag in ’n verklaring erken dat hulle hul hande vol gehad het om die voorvalle van openbare geweld wat met plundery gepaardgegaan het, hok te slaan.

In Elsiesrivier is die Usave-winkel in Halt-weg deur mense geplunder nadat hulle die veiligheidshekke voor die glasdeure afgebreek het. Hulle het meestal net koeldrank, sjokolade en ander lekkernye gesteel.

’n Poging om by ’n slaghuis in te breek is gefnuik toe die polisie die mense uiteengejaag het. Vier mense is in hegtenis geneem.

Plunderaars het ook probeer om in Norwood-weg in Elsiesrivier winkel te plunder. Hulle is egter in 12de Laan, Leonsdale, deur vermoedelik lede van die Bad Boys-bende in hul spore gestop.

Hamish Arries, ’n gemeenskapsaktivis en Khoi-San-leier in Elsiesrivier, het Woensdag gesê hy het verbaas gestaan toe hy sien dat die bendelede vir die plunderaars sê hulle gaan dit nie toelaat nie. “Een van die gangsters het vir hulle gesê sy ouers koop ook by die winkel, Majiets,.”

Die polisie skiet op inwoners van Heinz Park wat hulle met klippe bestook het. Foto: Jaco Marais

Arries sê die voornemende plunderaars het geen keuse gehad as om om te draai nie. “Hulle sal nie daai gangsters aanvat nie. Miskien, net miskien dring ons werk met hulle tog deur.”

In Mitchells Plain was toegang tot die woonbuurt vanaf die R300 vir die grootste deel van die dag vir motoriste gesluit nadat inwoners van Heinz Park vragmotors op die R300 met klippe bestook het in die hoop om die vragte te roof.

Inwoners het gesê hulle ly honger en het nog geen kospakkies van die regering gekry nie.

Inwoners van Heinz Park en New Woodlands het glo beplan om winkels by die Watergate-winkelsentrum in AZ Berman-weg in Mitchells Plain te gaan plunder.

Die ontplooiing van die polisie en metropolisie het egter hul planne in die wiele gery.

’n Polisievoertuig jaag inwoners deur Heinz Park se strate. Foto: Jaco Marais

Die bestuur van die Shoprite-winkel het gesê hul werkers het gesien dat mense vanuit Heinz Park oor die R300-brug in die winkel se rigting gestap kom. Daar was ook ’n groep mense wat vanuit New Woodlands oor die brug in Highlands-weg in die rigting van die winkelsentrum gestap het.

“Ons het dadelik die polisie gebel, wat toe gereageer het,” is daar gesê.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê die polisie het alles in hul vermoë gedoen om te keer dat die plunderaars die oorhand kry.

Volgens Potelwa is winkels sowel as afleweringsvoertuie geteiken.


Inwoners van Heinz Park en New Woodlands het Woensdag die polisie op die R300 uitgetart. Hulle was op pad na die Watergate-winkelsentrum waar hulle glo van plan was om winkels daar te plunder.Foto: Jaco Marais

In Delft kon die polisie daarin slaag om inwoners wat omstreeks 11:30 by ’n supermark daar ingestorm het, te verjaag. Die mense het goedere ter waarde van sowat R4 000 gesteel.

“Vandag se voorval in Delft was die vierde sedert verlede week toe ondernemings in Keerboomstraat en aan Delft se hoofstraat geplunder is. Vyf mense is aangekeer,” sê Potelwa.

In Vredenburg aan die Weskus is vier mense vir openbare geweld in hegtenis geneem nadat ’n skare van tussen 300 en 400 mense van die Witteklip-township probeer het om ’n spazawinkel te bestorm. Hulle het gekla dat hulle nie kospakkies kry nie. Die groep het glo ook probeer om die huis van ’n raadslid aan te val, maar is deur die polisie gekeer.

Meer oor:  Belhar  |  Delft  |  Mitchells Plain  |  Elsiesrivier  |  Lotusrivier  |  Honger  |  Plunderaars  |  Winkels  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.