Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kaapse vrou soek nog slagoffers van ‘perfekte’ man

Ná byna 30 jaar het ’n Kaapstadse vrou besluit om te praat oor haar pynlike ervaring as jong meisie in ’n poging om ander slagoffers te vind.

Die vrou, wat nou in haar 40’s is, sê sy is as jong meisie onsedelik aangerand deur ’n goeie vriend van haar ouers, wat ook by die kerk en die Voortrekkers betrokke was.

Die identiteit van die slagoffer kan ingevolge wetgewing nie bekend gemaak word nie en die beweerde oortreder se naam word op regsadvies weerhou.

In haar beëdigde verklaring vertel die vrou van hoe sy as jong meisie die eerste onsedelike aanranding beleef het.

Luidens die verklaring het die onsedelike aanranding oor ’n tydperk van vier jaar plaasgevind in Kenridge, Durbanville, in Hermanus en in die Cederberge.

Ek het van hom af wegbeweeg en op die bed gaan sit. Hy het langs my kom sit.

In 1984 het die slagoffer se gesin na die Noordelike voorstede van Kaapstad verhuis waar hulle by die plaaslike NG kerk ingeskakel het. Die kinders het ook die Sondagskoolklasse bygewoon. Haar ouers het bevriend geraak met ’n jong getroude paartjie. Dié paartjie het ’n paar jaar later hul eerste kind gehad.

Luidens die verklaring het die slagoffer as 13-jarige op ’n dag na die paartjie se huis gegaan om hul baba op te pas.

Terwyl sy besig was om die baba se doek om te ruil, het die verdagte glo styf agter haar gestaan, “met sy privaat deel (wat ek kon voel nog in sy broek was, maar styf gevoel het) teen my sitvlak,” lui die verklaring.

Die verdagte het hierna luidens haar verklaring sy arms om haar gesit en aan haar borste gevat, bo-oor haar klere.

“Ek het van hom af wegbeweeg en op die bed gaan sit. Hy het langs my kom sit en sy hand voor by my broek ingedruk . . .” lui die verklaring. Hy het haar toe glo onsedelik betas.

“Ek het gevries en was baie geskok,” lui die verklaring.

Sy vrou was ten tyde van die voorval besig om inkopies te doen.

Hy het aan die klaer gesê hy wou net kyk “of sy eendag ’n goeie vrou sou wees”, lui die verklaring.

Hierna het die slagoffer verskeie kere die baba gaan help oppas, waartydens die verdagte haar na bewering betas het. Dit het minstens een keer ’n maand gebeur en volgens haar het die verdagte sy tydsberekening goed beplan, soms terwyl sy vrou nog in die huis was.

Ek het gevries en was baie geskok.

Die verdagte was betrokke by die Voortrekker-beweging het ook voorligting vir die jong meisies gegee. Hy het glo ook op een van hul kampe in die Cederberge die slagoffer onsedelik aangerand terwyl hulle om die kampvuur gesit het. Hierdie voorvalle het minder geword soos die jare aangestap het, met die laaste voorval wat in 1990 plaasgevind het.

Die slagoffer het ná skool gaan studeer en die verdagte en sy gesin het vroeg in die 2000’s na Australië verhuis.

“In daardie stadium het ek besluit om nie die vrou en haar kinders aan hofsake bloot te stel nie en my studies sou geweldig skade ly indien ek by ’n lang, uitgerekte hofsaak betrokke sou raak,” lui die verklaring.

Die slagoffer is getroud en het twee kinders. “Die nagmerrie-ervarings het my voortdurend bygebly en namate ek ouer geword het, het ek besef hy het hulp nodig. Ek is bang oor wat hy moontlik aan ander kinders kan doen as ek nie sy gedrag blootlê nie.”

Die slagoffer het ook gevoel niemand sou haar sou glo as sy hieroor praat nie omdat die verdagte en sy vrou “ ’n perfekte paartjie” was.

Volgens haar het sy telkens teruggegaan na die egpaar se huis omdat sy baie lief was vir die kinders en die vrou, maar ook omdat sy “baie naïef was om te dink hy sou dit nie weer doen nie”, lui die verklaring.

Sy het in Oktober 2018 die voorvalle by die Durbanville-polisiekantoor aangemeld en ’n saak aanhangig gemaak.

Lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die saak word deur die eenheid vir geweld teen vroue en kinders, die FCS-eenheid, ondersoek. ’n Lasbrief vir die verdagte se inhegtenisneming is op 10 Mei vanjaar uitgereik.

Die verdagte is in Australië en kan eers in hegtenis geneem word indien hy na Suid-Afrika terugkeer.

Die familie van die slagoffer het die lasbrief, met behulp van die SAPD, by elke grenspos, lughawe en hawe gerapporteer en is in die proses om dit ook by Interpol te registreer.

Pogings is aangewend om die verdagte in Australië te nader vir kommentaar, maar hy het nie op e-posse of selfoonboodskappe gereageer nie.

Die slagoffer en haar familie beplan om ’n siviele eis teen die verdagte in te stel in ’n poging om hom terug na Suid-Afrika te bring.

Kontak kan met die slagoffer gemaak word deur ’n e-pos te stuur na jana.breytenbach@24.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.