Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kaapstad ‘SA se moordhoofstad’

Kaapstad ís nou die “moordhoofstad van Suid-Afrika”.

Só het Bonginkosi Madikizela, leier van die DA in die Wes-Kaap, gister gesê nadat die 2017-’18-geldjaar se misdaadstatistieke by die parlement bekend gemaak is.

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommis­saris, luister na die misdaad-statistieke. Foto: JACO MARAIS

Bheki Cele, minister van polisie, het aangekondig dat 20 336 moorde landwyd in die boekjaar aangemeld is teenoor die 19 016 in die vorige boekjaar. Dit is ’n toename van 1 320 moorde, oftewel 6,9%.

Cele het onder meer na die stygende moordsyfer gewys en gesê die 56 mense wat gemiddeld per dag vermoor word, “maak byna van ons ’n oorlogsone, al is ons nie in oorlog nie”.

In die Wes-Kaap alleen is 3 729 mense vermoor wat 418, of 12,6% meer is as in die vorige boekjaar.

Die top-30 polisiekantore waar die meeste moorde aangemeld is, was in die Wes-Kaap, gevolg deur Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Die Wes-Kaap het tien kantore op die top 30-lys – Nyanga (met 308 – ’n styging van 27 en dus steeds die gevaarlikste plek in die land), Philippi-Oos (205 – met ’n styging van 55), Delft (195), Khayelitsha (192), Kraaifontein (186), Guguletu (182), Mfuleni (157), Harare (142), Mitchells Plain (140) en Bishop Lavis (98).

Bonginkosi MadikizelaFoto: Felix Dlangamandla

Vyf van die polisiekantore op die lys is ook in die Oos-Kaap: Mthatha, Bethelsdorp, Kwazakele, Lusikisiki en Ngqeleni tel ook onder die 30.

In die Suid-Kaap het Thembalethu in George se munisipale gebied die hoogste moordsyfer met 27 moorde.

Van alle bendeverwante moorde in Suid-Afrika vind 83% ook in die Wes-Kaap plaas en bly bendegeweld volgens die polisie een van die grootste bydraende faktore tot die provinsie se hoë syfers vir moord en poging tot moord.

Genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van misdaadnavorsing en -statistiek in die polisie, sê 808 van die moorde in die Wes-Kaap en 87 in die Oos-Kaap was bendeverwant.

Van die 985 kinders wat in die afgelope boekjaar in Suid-Afrika vermoor is, was 279 in die Wes-Kaap, wat die provinsie dus ook die hoogste kindermoordsyfer in die land gee.

Madikizela sê dié statistieke wys dit is dringend noodsaaklik dat die weermag in die mees kwesbare gemeenskappe in die Wes-Kaap ontplooi móét word.

Hy het in ’n verklaring daarop gewys die maatstaf wat die Verenigde Nasies stel, is die verhouding 220 mense vir elke polisieman. In Suid-Afrika is die syfer 1:383 en in die Wes-Kaap selfs 1:560.

“Dit is totaal onaanvaarbaar,” het hy beklemtoon.

Madikizela het voorts gesê Kaapstad se polisiekantore het te min hulpbronne en te min mense in vergelyking met die res van die land. Die (sentrale) regering, wat die polisie beheer, het die mense van die Wes-Kaap in die steek gelaat.

“Die ANC in die provinsie blameer maatskaplike probleme vir die misdaad. Dit is absurd. Die Wes-Kaap het die laagste werkloosheidsyfer in die land, maar het die hoogste moordsyfer.”

Die DA vra al lankal dat die weermag hier in probleemgebiede ontplooi moet word, maar die regering weier.

Madikizela sê die weermag moet tydelik ontplooi word om die polisie by te staan om reg en orde te herstel.

Cele het egter gesê in die Wes-Kaap is dit nie die mense wat vra dat die weermag ontplooi moet word nie, maar politici.

Hy het gesê die Wes-Kaap besorg hom “baie hoofpyne” weens probleme met toeganklikheid wat polisiëring betref. Hy het daarop gewys dat Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, opgehou het om te vra dat die weermag in geweldgeteisterde gebiede ontplooi word.

“In die Wes-Kaap is dit nie ’n kwessie van die weermag nie. Dit is ’n kwessie van hoe die omgewing ontwerp is. Maak dit reg. Maak die huise reg. Maak die ligte reg, maak die paaie reg.

“Waar het jy gesien die gemeenskap staan in rye om die toilette te gebruik? Bou toilette en hou op om vir die weermag te vra. Mense het toilette nodig, nie die weermag nie,” het hy bygevoeg.

Zille het egter gister getwiet: “Minister Cele, dalk verstaan u nou waarom ek my op jou beroep om die weermag in die bendegeteisterde voorstede met die hoogste moordsyfer in te bring. Mense verdien beskerming.”

  • Verslagspan: Sarel van der Walt, Warda Meyer en Jackie Kruger.
Meer oor:  Bonginkosi Madikizela  |  Bheki Cele  |  Kaapstad  |  Moorde  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.