’n Kameraspan van die program Nuusdag is Vrydag van hul selfone, kameras en toerusting beroof terwyl hulle ’n opname in Khayelitsha, Kaapstad, gemaak het.
Dieter Göttert, ’n kameraoperateur, het aan News24 gesê hy en ’n verslaggewer, Graig-Lee Smith, het die weermag se ontplooiing in Kaapstad gevolg.
Hulle is deur drie jong mans oorval.
“Ons was ongeveer 10 minute in Idadalaan in Site C toe dié drie ons genader het.”
Göttert sê hy het aanvanklik geweier om die artikels te oorhandig, maar het toegegee toe hy sien hulle is gewapen.
“Hulle het weggekom met albei ons selfone en die kamera wat op ’n drievoet was. Hulle het binne 30 sekondes agter huise verdwyn,” sê Göttert.
Vroeër vanjaar is ’n eNCA-verslaggewer, Sandy McCowen, en ’n kameraoperateur, Nceba Ntlanganiso, aangeval in Port-Elizabeth toe hul voertuig met klippe bestook is. Dié twee het ’n betoging teen bendegeweld in Heideveld verfilm. - News24