Eens was net politici en bendelede se motorruite van koeëlvaste glas, maar weens Suid-Afrika se baie misdaad word dié veiligheidsmaatreël al hoe meer algemeen.

Grant Anderson, besturende direkteur van Armormax, agter koeëlvaste glas waarteen skote afgevuur is. Foto: Elizabeth Sejake
Grant Anderson, besturende direkteur van Armormax, sê die vraag hou aan styg.
“Toe ons die onderneming 14 jaar gelede begin het, het die minimum mense met koeëlvaste motors gery, maar deesdae is ons kliënte sakelui van oor die hele spektrum heen. Veral sekere sakemense, wat byvoorbeeld met kontant werk, word geteiken.”
Ernie “Lastag” Solomon, gewese baas van die 28-bende, is op 20 November in sy BMW in Boksburg doodgeskiet.
Verskeie skote is nie net na die vensters nie, maar ook deur die dak afgevuur – waarskynlik omdat sy moordenaars aanvaar het die motorvensters is koeëlvas. Solomon se tweejarige kleinkind is in haar maag en boud gewond.
Dis nie net bendebase wat geteiken word nie: Die kaping van vragmotors het tussen Julie en September met 33% toegeneem.
‘Jy is júis nie paranoïes in koeëlvaste motor’
Motorkapings het met 1,6% afgeneem, wat toegeskryf is aan die inperkingsmaatreëls, maar 4 803 is steeds vir die kwartaal aangemeld.
Die meeste motorkapings was in Gauteng (2 435), gevolg deur die Wes-Kaap (838) en KwaZulu-Natal (733).
Anderson sê dis weens voorvalle soos dié wat mense hul motors koeëlvas wil maak.
“Om so ’n motor te bestuur gee jou ’n gevoel van veiligheid, soos ’n trooskombersie vir ’n kind.”
Koeëlvaste ruite is beskikbaar in verskillende diktes wat óf net teen handwapens bestand is (21 mm) óf uit nege lae bestaan (40 mm) wat beskerming bied teen hoër kaliber koeëls. Hul omskakelings voeg sowat 180 kg of 500 kg by die gewig van ’n motor. Om die B4-glas van 21 mm-dikte te installeer, kos sowat R580 000.
Anderson sê daar is diegene wat kommentaar lewer dat iemand wat ’n koeëlvaste motor ry totaal paranoïes moet wees, maar die teenoorgestelde is waar. “Omdat jou motor koeëlvas is, hóéf jy nie paranoïes te wees nie.”