Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kankerlyer versmoor voordat lyk aan brand gesteek is

Die sieklike en tenger Debbie Venter (52), wie se gebrande lyk vroeër in ’n dreingat gekry is, is glo versmoor.

Debbie Venter

Met hande agter die rug vasgebind en ’n gesmelte plastieksak oor die kop, moes die kankerlyer se lyk aan haar vingerafdrukke geïdentifiseer word, maar die lykskouing kon wel die oorsaak van haar dood as versmoring bevestig.

Dit blyk dat sy reeds op 28 Mei vermoor is, ’n dag voordat haar halfsuster se man haar as vermis aangemeld het.

Danieta en Gert van Rhyn, albei 39, het destyds glo aangevoer dat hulle vir Venter, wat ongeveer twee maande gelede by hulle op ’n hoewe in Bronkhorstspruit ingetrek het weens haar verswakte gesondheid, in haar slaapklere vir ’n mediese afspraak geneem het. By ’n vulstasie in Silverton, Pretoria, het hulle blykbaar uitgeklim om na die winkeltjie te gaan.

Venter, wat fase 4-kanker gehad het, skaars 42 kg geweeg het en doeke vir volwassenes moes dra, het, aldus die vermistepersoneverslag, haar Ford Escort-motor se deure gesluit en vir die Van Rhyn-egpaar weggejaag.

Toe verdwyn die Van Rhyns self uit Bronkhorstspruit.

Hulle is op 4 Julie in Queenswood, Pretoria, vasgetrek op aanklagte van moord en regsverydeling. Hulle het Dinsdag weer in die landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn.

Danieta en Gert van Rhyn met hul eerste hofverskyning verlede week. Foto: Deaan Vivier

Luidens bronne het die polisie tussen die tyd dat Venter as vermis aangemeld is en die inhegtenisneming, genoeg bewyse gevind om te glo dat Venter nie net vermoor is nie, maar dat die Van Rhyn-egpaar na bewering betrokke kon wees.

Ao. Gerda Tosen en sers. Verusca Marais van die Bronkhorstspruit-speurtak, het met die hulp van onder meer die polisie se honde- en kubermisdaadeenheid, Venter se verdwyning begin ondersoek.

Haar selfoon is in ’n asblik op die hoewe gekry waar sy saam met haar halfsuster-hulle gebly het.

Die gat waarin Debbie Venter se lyk gevind is. Foto: Verskaf

Die polisie het ook uitgevind daar is op 12 Mei ’n polis van R80 000 aan Venter uitbetaal.

Van dit het sy gebruik om die Van Rhyn-egpaar te help met huurgeld en kos. Ongeveer R67 000 het egter glo later uit haar bankrekening verdwyn.

Op 12 Junie het brandweerlede gedurende ’n veldbrand in Lindopark, Pretoria, ’n erg ontbinde en gebrande lyk in ’n dreingat gevind.

’n Kaart wat aandui waar die gat in die veld in Lindopark, Pretoria, is waarin Debbie Venter se lyk gekry is. Foto: Skermgreep/Verskaf

Die persoon se hande was agter die rug vasgebind en daar was ’n plastieksak oor haar kop getrek. Die identiteit kon nie in daardie stadium bepaal word nie, maar die patoloog kon vasstel dat dit ’n wit vrou van in die 50’s was, wat siek was, het lt.kol. Solly Magongwa, speurhoof, later gesê.

Voorts is Venter se voertuig in Mabopane aan die anderkant van Pretoria gevind. Kapt. Terry Beheydt van die polisie se forensiese afdeling het onder meer die voertuig deursoek.

Dit blyk dat Venter (se lyk) in ’n stadium moontlik in die kattebak was.

Daar is tekens gevind dat Debbie Venter se lyk agterin die bagasieruim van haar motor was. Foto: Hanti Otto.

Danieta en Gert is hierop in hegtenis geneem. Hulle het kort daarna met hul eerste hofverskyning aangedui hulle wil om borgtog aansoek doen.

Die saak is uitgestel na hierdie week vir dié doel. Dinsdag het die twee, hoewel hulle hande vasgehou het in die beskuldigdebank, verskillende planne gehad.

’n Nota van die polisie op die ruit van Debbie Venter se motor geplak. Foto: Hanti Otto

Danieta het gesê dat sy nie meer ’n borgtogaansoek gaan bring nie. Gert wil steeds voortgaan, maar ’n nuwe regshulp-prokureur is vir hom aangestel wat eers met hom moet konsulteer.

Sy aansoek sal nou later die maand aangehoor word.

Meer oor:  Debbie Venter  |  Pretoria  |  Versmoor  |  Kankerlyer  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.