Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kaper gee oud-viserektor ’n vuishou in gesig

“Hy het gesê: ‘Gee my jou sleutels of ek skiet jou vrek’, maar daar is iets in my karakter wat gemaak het dat ek nie my sleutels gegee het nie.”

Prof. Julian Smith, ’n voormalige viserektor van die Universiteit Stellenbosch, was Vrydagoggend by ’n mislukte kaping betrokke en “was gelukkig” om net ’n vuishou in die gesig te kry.

“Dit was so 11:30 by ’n motorhawe in Bellville-Suid. Daar was baie aktiwiteit rondom my aan die gang. Ek is gewoonlik baie op my hoede, maar ’n mens verwag nie so iets op ’n besige plek nie,” sê Smith.

Hy het die petroljoggies betaal en in sy BMW geklim om te wag dat hulle klaar die petrol in sy motor gooi.

“Terwyl ek gewag het, het ek opgekyk en die volgende oomblik het ’n jong man ’n rewolwer in my gesig gedruk.”

Prof. Julian Smith, die voormalige viserektor van die Universiteit van Stellenbosch. Foto: sun.ac.za

Dit was toe dat die rower daarop aangedring het dat Smith die motorsleutels aan hom oorhandig, maar hy het geweier.

Smith het probeer om sy motor aan te skakel sodat hy die toeter kon blaas. Hy het ook om hulp geskree.

“Maar niemand wou my help nie, nie eens die petroljoggie wat twee meter verder gestaan het nie.”

Die rower het toe daarop aangedring dat Smith sy beursie vir hom gee.

“Ek het vir hom gesê ek het nie ’n beursie nie, maar eintlik was my beursie in die kant van die motor se deur.”

Smith het weer probeer om sy motor aan te skakel, maar die rower het gewaarsku dat hy Smith sou skiet indien hy dit doen.

“Ek het die motor aangeskakel gekry. Ek dink die rower het verbouereerd geraak omdat ek nie wou luister nie. Hy het die rewolwer terug in sy broek gedruk, my ’n vuishou gegee en na ’n motor gehardloop wat vir hom gewag het.”

Smith het die polisie gebel waarna hulle die roomkleurige Toyota gesoek het waarin die kaper gevlug het, maar hulle kon niks vind nie.

Maar niemand wou my help nie, nie eens die petroljoggie wat twee meter verder gestaan het nie.

Smith sê hy vind dit vreemd dat niemand by die motorhawe hom wou help toe hy om hulp geskree het nie.

“Die bestuurder van die motorhawe het my selfs gevra om my motor te skuif omdat ek die petrolpomp versper het.”

Hy sê elke soortgelyke voorval moet by die name van korrupte en onbevoegde politici geskryf word.

“Ek is nie kwaad nie, ek is teleurgesteld met wat besig is om in ons land te gebeur. Ek was deel van die stryd in die 70’s om Suid-Afrika beter te maak, nie van die stryd vir politici om hul vriende en families te bevoordeel nie.”

Smith sê hy versprei die nuus van dié mislukte motorkaping onder sy vriende en familie sodat hulle altyd op hul hoede moet bly.

“Maar op ’n ligter noot: ek het nooit die lotto gespeel nie, want ek sê altyd ek was nog nooit gekaap nie. Maar van môre af gaan ek die lotto begin speel.”

Meer oor:  Bellville  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.