Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: ‘Kaper’ se jaagtog eindig in ernstige ongeluk

’n Vermeende kaper het Vrydagoggend chaos veroorsaak in spitsverkeer in Port Elizabeth toe hy probeer wegjaag en in ’n motor reg voor ’n skool vasgery het.

Die man (21) het van Parlementstraat in Sentraal weggejaag waar ’n vrou (20) glo omstreeks 07:00 in haar rooi VW Polo gekaap is.

Die vrou sê sy het in die straat gery toe vier mans haar voorgekeer en die motor afgevat het, sê kapt. Johan Rheeder, polisiewoordvoerder.

Die man het omtrent 15 minute later met die Polo in Target Kloof-weg, ongeveer 3 km verder, gery.

Die wrak van die Polo waaruit die vermeende kaper Vrydagoggend met noodtoerusting bevry is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Hy het by die Clarendon Park Primary School beheer oor die motor verloor en teen ’n lamppaal vasgery, waarná hy ’n wit Nissan X-trail getref en teen ’n ligte vragmotor tot stilstand gekom het.

Die insittendes van die Nissan, ’n pa (41), ’n ma (40) en hul dogter (17), was onderweg na ’n skool om die dogter af te laai, maar is kort ná die ongeluk in ’n hospitaal opgeneem. Rheeder sê dit was nie onmiddellik duidelik hoe ernstig die gesinslede se beserings is nie. Die bestuurder van die ligte vragmotor is nie in die ongeluk beseer nie.

Die brandweer het die man in die Polo met noodtoerusting uit die wrak gehaal. Hy is ernstig beseer en na ’n hospitaal geneem.

Rheeder sê volgens ooggetuies was daar slegs een persoon in die Polo. “Ons vermoed hy het die ander drie iewers afgelaai voordat die ongeluk gebeur het.”

Die polisie het die slagoffer ook Vrydagoggend na die ongelukstoneel geneem. Volgens ingeligte bronne was sy te besope om verdere inligting oor die voorval aan die polisie te verskaf.

Die verkeer was weens die ongeluk vir enkele ure in die gebied opgehoop.

Die drie insittendes van dié Nissan is Vrydagoggend ná die ongeluk in ’n hospitaal opgeneem. Foto: Cara-Lee Dorfling

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Jaagtog  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.