Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kapers buit vrag koper by grenspos

’n Vragmotor wat koper van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) na Durban vervoer het, is Vrydagaand in Limpopo enkele kilometers van die Beitbrug-grenspos na Zimbabwe deur mans in verkeersuniforms gekaap.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê drie mans het kort voor 20:00 op die vragmotor toegeslaan naby ’n weegbrug sowat agt kilometer vanaf die Beitbrug-grenspos.

Die bestuurder van die vragmotor en sy vrou is deur drie mans voorgekeer wat uniforms van verkeersbeamptes aangehad het.

Mojapelo sê die drie mans was in ’n voertuig met blouligte toe hulle die vragmotor voorgekeer het.

Nadat die vragmotorbestuurder stilgehou het, het die drie mans met wapens op hom en sy vrou toegesak.

Hulle het die egpaar in ’n klein spasie in die bestuurskajuit ingeboender en met die voertuig tot op ’n verlate grondpad in die Doreen/Verbaard-gebied gery.

“Die man en vrou is uitgepluk en op die stuk verlate grondpad gelos, waarna die drie mans met die vragmotor weggery het,” sê Mojapelo. Die egpaar is ongedeerd na die voorval.

Die vragmotor se twee sleepwaens was vol koper op pad na die DRK.

Die bestuurder van die vragmotor het die polisie gebel en ná ’n soektog het die polisie afgekom op die voorhaker van die vragmotor naby die Venetia-diamantmyn buite Musina.

Die twee sleepwaens vol koper is egter skoonveld. “Ons vermoed die kapers het ’n ander vragmotor gebruik om die sleepwaens te haak en toe daarmee weggery,” sê Mojapelo.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, het ’n taakspan aangewys om die voorval te ondersoek.

Enigiemand met inligting kan lt.kol. Mamuhoyi by 082 414 6683 of die polisie se noodnommer, 10111, bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.