Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kapers los motor, maar neem haar lewe

’n 49-jarige vrou van Honeydew aan die Wes-Rand het met haar hande in die lug probeer weghardloop toe kapers haar verlede Vrydagaand by ’n winkelsentrum in dié omgewing in die agterkop geskiet het.

Daleen van Staden is minute later op die toneel dood.

Haar man, Herman (52), is gebroke. “Ons jongste het by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf. My vrou het daardie middag om 15:45 van die Kaap af geland. Dit was die eerste aand wat ons as man en vrou kon uitgaan sonder enige kinders in die huis.”

Hulle het die aand by Piza é Vino in die Eagle’s Landing-winkelsentrum deurgebring.

‘Almal loop deur onder misdaad.’

“Ons het omtrent 20:00 daar aangekom, toe was daar nog ander karre in die parkeerarea, maar toe ons net ná 21:30 uitstap, was daar net ’n karwag.”

Op pad na hul wit V8 Toyota Land Cruiser het die egpaar nog ’n paar woorde met die karwag gewissel. “Ons het hom gevra oor een van die eetplekke wat al ’n geruime tyd leeg staan. Hy het ’n tree of wat saamgeloop en toe sy gang gegaan,” sê Van Staden.

By hul voertuig het Van Staden, soos sy gebruik was, die afstandbeheer (sleutellose toestel) gebruik om sy vrou se deur oop te sluit. “Ek het aan my kant ingeklim en besef daar is weerstand. My deur wou nie toe nie.”

Die Van Stadens se V8 Land Cruiser. Foto: Elizabeth Sejake
In die agterkop geskiet: Daleen van Staden (49).

Toe sien hy die twee mans langs hom. “Die een was gewapen. Hulle het my met mag uit die kar gehelp. Ek het my selfoon op die agtersitplek gegooi en probeer om die sleutellose toestel uit my sak te haal,” sê Van Staden.

Aan sy vrou se kant van die voertuig was nog ’n man. “Toe ek eers uit was, kon ek nie sien wat aan die ander kant met my vrou gebeur nie. Daleentjie was ’n sekonde of twee voor my uit die voertuig. Een ding van Daleentjie, as iets vir haar kosbaar was, soos haar trouring, sou sy daarvoor geveg het. Wat presies aan haar kant van die kar gebeur het, weet ek nie. Ek het haar gehoor ‘nee! nee! nee!’ skreeu en daar was ’n struweling. Ek weet nie of hulle haar saam met die kar wou vat nie. Toe klap die eerste skoot.”

Sekondes later het nóg ’n skoot geklap.

“Een van die mans aan my kant het my vasgehou terwyl die ander een regs agterom die kar gekyk het. Laasgenoemde het toe die ander een van my afgetrek en hulle het gevlug in wat soos ’n silwerkleurige BMW gelyk het.” Die BMW se nommerplate was verwyder.

Rouklaers Saterdag voor die NHK Weltevredenpark.

Van Staden is dadelik om die voertuig na sy vrou toe. “Daleentjie het op haar regtersy gelê. Haar gesig gedraai in die rigting waarin die kapers gevlug het. Ek het haar naam ’n paar keer geroep, maar sy was stil. Ek kon ook nie ’n pols voel nie.”

Hy sê die paar omstanders wat by eetplekke in die sentrum was, het die nooddienste gebel.

Die Van Staden-egpaar sou nie meer lank in Gauteng gewoon het nie. “Ons is semi-afgetree. Ons bou al aan ons aftreehuis net buite die Paarl en sou middel 2020 getrek het.”

Later dié aand het die Van Staden-gesin se dominee huisbesoek gedoen om Herman te ondersteun. “Terwyl die dominee daar was, het ek my kinders se vlugte vir die volgende dag bespreek.

“Ek moes hulle die volgende middag gaan oplaai. Voordat ek dit gedoen het, het ek eers die polisie se vingerafdruk-poeier van ons kar afgewas.”

Dae ná die voorval het een van Daleen se broers die toneel gaan besoek. “ ’n Moslem-vrou het hom gevra wat daar gebeur het en toe hy haar vertel, het sy vir ons ’n blommeruiker gekoop en saamgestuur. Almal in hierdie land loop deur onder misdaad.”

Daleen van Staden laat haar man Herman, ’n seun (18) en ’n dogter (21), agter.

’n Troosdiens is Saterdag in die NHK in Weltevredenpark vir haar gehou.


Meer oor:  Moord  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.