Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kapingsmoord: Familie radeloos ná jaar sonder antwoorde
Isabel en Iggie van Coller was 36 jaar getroud toe sy vermoor is.

“Die mense wat nou na ons moet kyk, kyk nie na ons nie. My suster verdien geregtigheid.”

Dit is die woorde van ’n moedelose Harriet Ackermann ’n jaar en vier maande ná die grumoord op haar tweelingsuster.

Sedertdien sukkel Ackermann, haar susterskind Arno van Coller en die res van die familie om Isabel van Coller se dood te verwerk, “en sit ons met meer vrae as antwoorde”.

Die familie sê hulle het al talle versoeke aan die polisie en nasionale vervolgingsgesag (NVG) gerig, maar dit val op dowe ore.

Ackermann, ’n senior staatsaanklaer van Oos-Londen, sê dit is vir haar ’n bitter pil om te sluk, juis omdat sy ook vir die NVG werk.

Isabel was op 15 November op pad werk toe toe sy by ’n verkeerslig in Bramley, Johannesburg, stilgehou het. ’n Groep mans het haar voertuig oorval en in ’n video van die voorval word daar gesien dat hulle haar binne 36 sekondes skiet, uit haar motor slinger en wegry. 

Ses mans is aanvanklik vir die moord in hegtenis geneem, maar kon weens ’n gebrek aan bewyse nie aan die misdaad verbind word nie.

Twee ander mans, wie se name nie deur die polisie bekend gemaak is nie, is op 5 Maart verlede jaar in hegtenis geneem en die saak sloer sedertdien.

Isabel van Coller

Ackermann sê die ondersoekbeampte het aanvanklik met Arno gekommunikeer, maar sy het die kommunikasie oorgeneem juis omdat sy ondervinding het. Volgens haar was die polisie glad nie behulpsaam nie en kon hulle geen antwoorde by die ondersoekbeampte kry nie.

Sy het ook navrae aan talle senior amptenare gerig wat na bewering gesê het die dossier is by die NVG en hulle kan daarom nie vir haar antwoorde gee nie. Ackermann het haar daarna tot die NVG gewend vir antwoorde en het ná ’n groot gesukkel uitgevind die saak is teruggetrek en verwys vir verdere ondersoek.

“Toe ek vra waarom dit gebeur het, het die NVG gesê hulle sukkel om die dossier by die polisie te kry,” sê Ackermann.

Sy sê die familie het hulle nou tot die media gewend om antwoorde te probeer kry.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê die saak word nog ondersoek.

“Die saak is steeds aan die gang en word in noue oorleg met die aanklaers ondersoek,” sê Peters.

“Sover ons weet het die ondersoekbeampte met die familie gekommunikeer. Ons beskou die beweringe egter as ernstig en ons sal dus daarna kyk om te verseker dat die naasbestaandes behoorlik ingelig word.”

Die NVG het nog nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.

Intussen sê Arno die familie voel magteloos en kwaad.

“Niemand is bereid om ons te antwoord nie. Ek weet nie met wie hulle kommunikeer nie, maar dit is nie met my of iemand in my familie nie.” sê hy.

“Ons het geen klarigheid oor hoekom die saak teruggetrek is nie. In plaas daarvan dat die staat ons belange beskerm, het hulle ons in die steek gelaat en ons met hul optrede, of gebrek daaraan, net verder getraumatiseer.”

Ackermann sê sy hoop steeds dat geregtigheid vir haar suster sal geskied.

“Sy verdien geregtigheid, veral ná die vreeslike wrede manier waarop sy gesterf het.”

Meer oor:  Isabel Van Coller  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.