Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Karatelesse help jong man om rowers te verjaag

WAARSKUWING: HIERDIE BERIG BEVAT ’N FOTO WAT SOMMIGE LESERS KAN ONTSTEL

Albert Maritz (18) sê hy sal baklei as sy familie aangeval word.

As dit nie vir die karatelesse was wat Albert Maritz (18) ’n paar jaar gelede geneem het nie, sou hy moontlik meer as net ’n aantal meswonde opgedoen het in ’n struweling met twee aanvallers.

“Ek het dit gedoen om myself te beskerm. In daardie stadium het ek net gedink ek moet die ouens weg van die huis af kry,” sê Albert.

“My hart het behoorlik geklop.”

Hy het Sondagaand verskeie meswonde opgedoen toe twee mans hom op ’n kleinhoewe by die Lonmin-myn in Marikana in Noordwes aangeval het.

Albert was omstreeks 18:00 alleen in die huis toe hy glas hoor breek het.

Hy het van sy kamer af na die voorkant van die huis geloop en is na buite waar hy ’n man aan die venster sien peuter het.

’n Struweling het tussen Albert en die man uitgebreek. Net nadat hy die aanvaller op die grond neergegooi het, het ’n ander man met ’n mes hom van agter af aangeval.

“Hy het my ’n paar keer met die mes aan die arm gesteek. Ek het hom ook gegryp en op die grond neergegooi. Toe die een man wou opstaan, het ek hom in die gesig geskop.

“Die man met die mes het opgespring en die mes voor my geswaai. Hy het die punt van die mes in my bors gesteek, maar gelukkig is daar net ’n klein skrapie.”

Albert Maritz (18) het meswonde aan sy regterarm opgedoen ná ’n struweling met aanvallers op ’n kleinhoewe in Marikana, Noordwes.

Die mans het weggehardloop sonder om enigiets te steel.

“Ek het hulle gekeer voordat hulle in die huis was,” sê Albert.

Hy het sy pa, ook Albert, gebel en die myn se veiligheidsdienste is na die toneel ontbied. Die ambulans was binne enkele minute daar.

Albert is hospitaal toe geneem waar hy 26 steke gekry het en is daarna ontslaan.

“My arm is baie seer en dit brand.”

Albert sê aanvallers het al vantevore by die huis probeer inbreek terwyl hy en sy broer, Renier (26), tuis was, maar hul honde het die booswigte verjaag. Dié keer was die honde agter die huis toegesluit.

Hy sê hy voel heel rustig ná die jongste aanval, behalwe dat die gebeure oor en oor in sy kop afspeel.

“Ek sou eerder teruggaan in die huis en iemand – my ouers of die polisie – gebel het, want ’n mens weet nie hoeveel aanvallers daar is nie. Ek sal wel baklei as my familie in gevaar is.”

Sy pa sê hulle reël dat hy berading kry. “Hy is taamlik geskok, maar hy het die hele situasie eintlik goed hanteer.”

Kapt. Aafje Bothma, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê die polisie ondersoek ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die wonde aan Albert Maritz (18) se arm ná die aanval.

Meer oor:  Rowers  |  Messteek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.