Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kenners waarsku oor plaasaanvalle ná ‘stil’ Januarie

Hoewel Januarie een van die stilste maande tot nog toe was wat plaasaanvalle betref, heers daar by misdaadkenners kommer omdat dié misdaad reeds in die afgelope twee weke weer begin styg het.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê daar was 15 plaasaanvalle in Januarie en sover hy weet nie een moord nie.

Hy glo boere is meer paraat en dit help om aanvalle te voorkom, maar verwag dat die politieke klimaat in die komende maande weer tot ’n styging in aanvalle sal bydra.

Lukas Swart, een van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van die voorkoming en ontlonting van plaasaanvalle nadat hy dit meer as ’n dekade lank nagevors het, sê hy verwag dat plaasaanvalle van nou af skerp gaan styg en plaasmoorde ook kan plaasvind.

Hy sê plaaswagte en buurtwagte het baie verbeter en dit het dinge vir bendes bemoeilik.

“Huisrooftogte en plaasaanvalle het baie afgeneem, maar ek verwag dat dit nou weer skerp gaan styg,” sê Swart.

Swart sê bendeleiers het koppe bymekaar gesit, nuwe lede gewerf en is besig om hul verkenningsmetodes te verander omdat hulle die afgelope tyd nie veel sukses behaal het nie.

Swart sê hy is ook bekommerd omdat hy inligting het dat georganiseerde misdaadbendes toenemend toeriste in die Laeveld gaan teiken.

Hy sê misdaadsindikate en bendes is uiters georganiseerd en gesofistikeerd en maak van selfoonblokkeerders gebruik om seker te maak hulle kan hul beplande misdaad ongehinderd uitvoer.

Bendes is besig om die platteland te infiltreer en Swart sê hy glo dat Suid-Afrika soos Suid-Amerika, al meer met groot kartelle te make gaan hê wat misdaadvoorkoming verder gaan bemoeilik.

Boere sal moet besef dat plaaswerkers soms ook by bendes aansluit en inligting verskaf.

“Hulle doen dit om ekstra geld te verdien omdat die meeste mense skuld het wat hulle moet betaal.”

Swart sê veiligheidskameras en ander veiligheidstoerusting is baie werd, maar mense moet besef dat bendelede wat vir jou werk presies weet hoe om dit te omseil.

Dr. Jane Buys, veiligheids- en risikoanalis van Vrystaat Landbou (VL), sê dit is moeilik om ’n voorspelling te waag, maar sy hoop dat dit ’n stiller jaar gaan wees.

Sy sê werkers by veeposte word ook al meer tydens plaasaanvalle geteiken.

Daar was die afgelope tyd drie aanvalle in die Vrystaat en in twee van die aanvalle is plaaswerkers geteiken, sê sy.

VL beplan ook om saam met die polisie, die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) die hersiene landelike beveiligingsplan te loods.

Die plan sal in boerderygemeenskappe en in die polisie se klusters uitgerol word, sê sy.

“Daar sal ook groter bewusmakingsveldtogte en werkswinkels wees om ernstige geweldsmisdade soos plaasaanvalle en veediefstal te voorkom.”

Meer oor:  Afriforum  |  Ian Cameron  |  Misdaad  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.