Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kerk skors dominee oor haar bruidegom

Die NG dominee wie se bruidegom ure voor hul troue in die Drakensberge in hegtenis geneem is omdat hy haar vorige gemeente glo besteel het, se nuwe gemeente het haar geskors.

Ds. Etresia van Schalkwyk wie se bruidegom, George Vorster, op hul troudag aangekeer is, is deur haar gemeente geskors. Hulle het hul verlowing destyds só op Facebook aangekondig.

Ds. Etresia van Schalkwyk (27) van die NG gemeente Mtubatuba aan die KwaZulu-Natalse noordkus word in ’n dissiplinêre verhoor aangekla van oneerlikheid en wangedrag. Die verhoor begin Donderdag.

Die klagte volg onder meer nadat sy glo nie aan die polisie wou sê waar haar verloofde, George Vorster (32), was terwyl hulle na hom gesoek het nie.

Rapport het vroeër berig die polisie het Vorster in Junie net voor sy troue aangekeer. Hy was reeds in sy trouklere toe hy in boeie weggeneem is.

Hy word aangekla van bedrog en diefstal.

Vorster het Saterdag te velde getrek teen die Mtubatuba-gemeente omdat hulle Van Schalkwyk insleep by ’n saak “wat niks met haar te doen het nie”.

Ek beskou dit as vertroulik en nie tot voordeel van die gemeente om enige uitlating te maak nie.

“Ek glo die kerk se leierskap het hulle eie geloof en hulle morele gesag in die gemeenskap . . . verraai en behoort hulle te skaam,” het hy in ’n verklaring gesê.

Vorster sê hy het nooit met opset die polisie ontduik of vir hulle weggekruip nie en dat hy die afgelope vyf jaar by dieselfde adres woon en by dieselfde plek werk.

Albei die adresse is volgens hom maklik opspoorbaar.

Peet Grobbelaar, ’n Pretoriase prokureur wat namens die gemeente optree, sê in ’n brief die kerkraad wou met Van Schalkwyk oor die saak praat en het ’n vergadering daaroor ge­reël.

Sy het egter nie die vergadering bygewoon nie omdat sy in aanraking was met iemand wat Covid-19-positief was.

Een van die klagtes teen Van Schalkwyk is dat sy bedrieglike of wanvoorstellings aan haar voornemende werkgewer gelewer het.

Dit hou verband met haar vorige werk by die NG gemeente Escombe in Durban waar meer as R1 miljoen weggeraak het.

Luidens Grobbelaar se brief het Vorster erken sy gedrag by Escombe het neergekom op “onregmatige toe-eiening (sic) van ’n ander party se geld”.

Vorster se ma, Gladys, was die tesourier van die gemeente.

Die Mtubatuba-gemeente voer aan Van Schalkwyk het ’n regsplig gehad om haar toekomstige werkgewer van die probleme by Escombe in te lig.

Die akte van demissie (’n soort oorplasingsertifikaat) wat Van Schalkwyk by die Mtubatuba-gemeente voorgelê het, was glo nie een wat die NG Kerk in KwaZulu-Natal voorskryf nie, maar blyk een van die Wes-Kaap te wees.

Die akte is glo ook nie deur die Escombe-gemeente se voorsitter onderteken nie, maar deur Mtubatuba se skriba.

Van Schalkwyk is verbied om gedurende haar skorsing met gemeentelede kontak te maak, behalwe om te bedank of haar oorspronklike akte van demissie aan die voorsitter van die kerkraad te oorhandig vir verdere ondersoek.

Van Schalkwyk wou nie kommentaar lewer oor “interne gemeentesake” nie.

“Ek beskou dit as vertroulik en nie tot voordeel van die gemeente om enige uitlating te maak nie,” het sy gesê.

Vorster het in sy verklaring gesê die voorsitter van die kerkraad en sy sekretaris het hulle skuldig gemaak aan “moontlike kriminele” gedrag deur vertroulike inligting oor ’n saak tussen hulle en ’n werknemer “aan die media te lek”.

Meer oor:  Etresia Van Schalkwyk  |  George Vorster  |  Mtubatuba  |  Bedrog  |  Ng Kerk  |  Predikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.