Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kerkgangers ontstoke toe polisie motoris vastrek

Inwoners van Bonteheuwel het Woensdagaand lelik koppe met die polisie gestamp toe die polisie ’n jong man wat glo byna ’n kind raakgery het vir dronkbestuur opgesluit het.

Dit kom boonop nadat talle lede van die gemeenskap pas die aand uit ’n kerk gekom het waar hulle die Aswoensdagdiens bygewoon het.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die voorval het kort ná 20:00 naby die gemeenskapsaal in Bonteheuwel plaasgevind.

Ondanks die gemeenskap se teenstand is die jong man op die toneel in hegtenis geneem
FC van Wyk, polisiewoordvoerder

“Ons lede was besig met misdaadvoorkomingstake in die gebied toe hulle ’n Volkswagen Golf sien wegjaag. Die motor het amper ’n kind raakgery.”

Die polisie het die motor agternagesit waarna die motor tot stilstand gekom het.

“Die beamptes het die motor, asook die passasiers, deursoek. Hulle het na alkohol geruik en die bestuurder is gevra om saam met hulle na die hospitaal te gaan waar sy bloedalkoholvlak getoets moes word.”

Die man (21) het geweier om in hegtenis geneem te word.

’n Groep mense wat toevallig van die Aswoensdagdiens van die St. Matthew- Katolieke kerk in Prunusstraat af gekom het, het hulle by die toneel aangesluit en haaks met die polisie geraak.

“Die inwoners wou nie die polisie toelaat om hul werk te doen nie. Die beamptes het vir versterkings gevra. Ondanks die gemeenskap se teenstand is die jong man op die toneel in hegtenis geneem. Sy bloedalkoholvlak is by die hospitaal getoets en het gewys dat hy ver meer as die wettige alkoholvlak in sy bloed gehad het.”

Die vriend (20) van die bestuurder is net nadat die bestuurder van die toneel weggery is ook aangekeer. Die man het agter die polisie gery toe sy vriend weggeneem is en die polisiemotor in die proses gestamp.

“Ons het ’n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen. Ons ondersoek ook klagte van dronkbestuur, bestuur sonder ’n rybewys, voorkoming van en inmenging by polisiewerk, asook weerstand teen inhegtenisneming.”

Mense, laat jul kinders net hul samewerking gee. Die polisie doen maar net hul werk
Mary Lennox, inwoner

Van Wyk sê dat mense wat by die polisie se werk inmeng, vervolg sal word.

Die twee mans verskyn eersdaags in die landdroshof in Bishop Lavis.

Inwoners het mekaar op die gemeenskap se Facebook-blad ingevlieg oor of die polisie reg of verkeerd was.

“Mense, laat jul kinders net hul samewerking gee. Die polisie doen maar net hul werk. Deesdae weet die polisie en onsself nie wie die verdagtes is nie, want ons weet van negejariges wat ook huurmoordenaars is,” skryf Mary Lennox.

Celeste Easton skryf: “Die polisie is nooit daar as daar geskiet word nie. Hulle kom altyd agterna, maar hulle wil onskuldige mense aanval.”

Meer oor:  Fc Van Wyk  |  Bonteheuwel  |  Toe  |  Motoris  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.