Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Polisie keer 11 aan ná bloedbad in Khayelitsha

Die polisie ondervra tans 11 mense in verband met ’n skietery Saterdag in Khayelitsha buite Kaapstad waarin 13 mense gesterf en verskeie ander beseer is.

Die groep mense is Sondag omstreeks 03:00 in ’n hotel in Seepunt verras en vir ondervraging geneem.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het gesê die mense word tans ondervra met die oog op hul vervolging later.

Hulle sal na verwagting teregstaan op aanklagte van moord en poging tot moord, terwyl nog aanklagte bygevoeg kan word namate die ondersoek vorder.

Elf mans is Saterdag op verskeie tonele in Area B van Khayelitsha doodgeskiet en nog sewe is gewond. Vyf is ernstig gewond en vier ander het beserings opgedoen. Die dodetal het intussen tot 13 gestyg.

Volgens Potelwa het die moord Saterdagoggend op ’n man in die RR-gebied in Khayelitsha ’n reeks skietvoorvalle tot gevolg gehad.

Dit blyk dat ene “Pierrie”, vermoedelik een van die stigterslede van die Guptas-bende, die eerste slagoffer was.

Die eerste lyk is omstreeks 10:00 in Bazistraat (Area B) met veelvuldige skietwonde aan sy lyf aangetref. ’n Vuurwapen en ’n groot bedrag geld is by sy lyk gevind. Lynn Williams berig 43 patroondoppies is op dié toneel gevind.

Bronne het gesê die moontlikheid word ondersoek dat lede van een van die Guptas-splintergroepe “Pierrie” vermoor het, of dat dit van die buitelandse winkeleienaars was wat deur hom en sy mede-bendelede vir beskermingsgeld afgepers is.

Volgens die polisie was die tweede aanval, waarin twee Somaliërs in T110 geskiet is, ’n vergeldingsaanval ná die eerste voorval. Die een man is op die toneel dood, terwyl die ander een met ernstige skietwonde na ’n hospitaal geneem is.

Nog drie mans is Saterdagmiddag in ’n vermoedelike vergeldingsaanval in die RR-gebied doodgeskiet.

Volgens Potelwa is nog twee mans later die dag in die Y-blok doodgeskiet. Een is in ’n agterplaas van ’n huis en die ander een in ’n motor geskiet.

Kort nadat die moorde gepleeg is, het genl.maj. Thembisile Patekile, waarnemende provinsiale kommissaris, die 72-uur-aktiveringsplan vir die mobilisering van hulpbronne ingestel. ’n Multidissiplinêre taakspan het dwarsdeur die dag en nag gewerk om verdagtes op te spoor, het Potelwa gesê.

“Patekile het die span vir sy meedoënlose pogings geprys,” het sy gesê.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die inhegtenisnemings verwelkom en ook groot lof vir die polisie gehad. “Dit bewys dat ons misdaad kan en sal oorwin!”

Fritz het gesê hy gaan die Khayelitsha-polisiekantoor in Site B Maandag om 11:00 besoek. Hy het die moorde ten sterkste veroordeel.

Volgens hom is daar sterk aanduidings dat georganiseerde misdaadgroepe die moorde gepleeg het en dat afpersing die motief is.

”Ek wil in hierdie moeilike tyd my innige meegevoel met families van die slagoffers betuig. Ek wil hulle verseker dat ons nie sal rus voordat al die skuldiges aan die pen ry nie.”

Meer oor:  Kaapstad  |  Misdaad  |  Moord  |  Khayelitsha-Skietery  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.