Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kilian het Booth se selfoonsein ook nagespoor
Eric Bryer, Zane Kilian se opdraggewende prokureur, en adv. Eckhardt Rosemann, is Maandag deur lyfwagte na die hof vergesel. Foto: Jaco Marais

Zane Kilian (39) het ’n bekende Kaapse strafregprokureur, wat in April 2020 ’n sluipmoordaanval by sy huis in Higgovale, Kaapstad, oorleef het, se selfoonsein 653 keer nagespoor.

Kilian, wat reeds op die moord op lt.kol. Charl Kinnear (52) teregstaan, verskyn nou ook Dinsdag in die landdroshof in Kaapstad in verband met die sluipmoordaanval op William Booth op 9 April 2020 by sy huis.

Eric Bryer, Kilian se regsverteenwoordiger, het Maandag gesê Kilian gaan van sameswering om moord te pleeg aangekla word.

Die aanklag hou verband met die aanval op Booth.

Twee gemaskerde mans het op 9 April omstreeks 07:10 op Booth geskiet waar hy in sy motorhuis by sy voertuig gestaan het. Hy is ongedeerd maar sy voertuig is vier of vyf keer getref.

Betroubare inligting in Netwerk24 se besit wys Booth se selfoon is die oggend van 9 April om 03:35:37 begin naspoor.

Daarna is dit weer om 06:05:15 en 06:05:51 gedoen. Dit blyk dat die eerste drie pogings onsuksesvol was.

Die selfoon is daarna weer om 06:06:53 nagespoor. Die ligging was in Tafelbergweg, Kaapstad. Hy het vermoedelik toe net klaar geoefen en eers toe sy selfoon aangesit.

Sowat ’n uur later is by sy huis op Booth geskiet.

Zane Kilian
Zane Kilian

Sy selfoon is daarna weer om 07:45:11 nagespoor en die ligging word as sy woonadres aangedui.

Booth se selfoon is in die weke en maande daarna sporadies nagespoor. Die laaste nasporing was op 18 September om 07:52:13 toe die ligging as in KwaZulu-Natal aangedui is.

Volgens die inligting in Netwerk24 se besit is daar op 6 Maart 2020 begin om Booth se selfoon na te spoor.

Die eerste keer was om 09:59:59. Booth was toe in Hoogstraat, Worcester.

Booth het kort ná die sluipmoordaanval aan speurders gesê hy vermoed ’n berugte persoon in die Kaapse onderwêreld sit agter die aanslag op sy lewe.

Polisiebronne het gesê Booth het in ’n verklaring aan die polisie gesê hy het ’n week of twee voor die aanval op hom ’n kliënt van hom aangeraai om ’n saak van intimidasie, ontvoering en afpersing aanhangig te maak teen ’n vennoot van die persoon wat hy verdink het.

Die persoon wat deur Booth verdink is, het egter ná die aanval op Booth aan Netwerk24 gesê hy ken hom (Booth) nie, maar hoop dat hy “oukei” is.

Dit blyk nou ook asof die polisie in besit is van ’n lys van name en selfoonnommers van ander mense wat ook nagespoor is.  Volgens bronne is van die mense in sluipmoordaanvalle vermoor of daar was ’n aanslag op hul lewe.

Die bronne het gesê die polisie kyk na die aanslae op Jerome “Donkie” Booysen, sakeman en vermeende leier van die Sexy Boys, se lewe – daar was sedert 2016 ses aanslae op sy lewe; die aanslag in Februarie 2019 op die lewe van Mark Lifman, sakeman en vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld; die aanslag op André Naudé, voormalige uitsmyterbaas en vriend van Lifman; en die voorval op 5 Januarie 2020 waarin die sakeman en veiligheidsbaas Tim Lotter naby die N1-winkelsentrum in Goodwood in ’n sluipmoordaanval doodgeskiet is.

Hulle kyk glo ook na die omstandighede waarin Stefan Verster op 10 September 2020 doodgeskiet is waar hy by Talla’s, ’n bekende restaurant in Kusweg, Gordonsbaai, gesit het.

Daar word glo gekyk na die omstandighede waaronder Jakes van der Merwe (53), ’n siviele prokureur, op 12 Februarie 2020 voor sy huis in Constantiastraat, Higgovale, geskiet is. Hy het die aanval oorleef.

Kilian, ’n oudrugbyspeler wat vir die Valke en Griekwas uitgedraf het, is op 22 September deur Wes-Kaapse speurders in verband met Kinnear se moord aangekeer.

Die staat beweer dat hy Kinnear se selfoon van Maart 2020 tot die dag van sy dood nagespoor het.

Kinnear was tot die dag van sy dood ’n speurhoof by die teenbende-eenheid in die Wes-Kaap.

Kilian het Maandag in die streekhof in Bellville vir ’n borgtogaansoek verskyn, maar dit is tot 27 November uitgestel.

Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, sê die landdros sal eers op 27 November beskikbaar wees.

Hy sê ’n aanklag van bedrog gaan by die klagstaat gevoeg word.

Kilian staan tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie in verband met Kinnear se moord.

Die staat beweer Kilian het die bepalings van art. 49, saam gelees met art. 51 (b) van die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en die Verskaffing van Kommunikasieverwante Inligting (Wet 70 van 2002), oortree.

Rosemann het met ’n vorige verskyning van Kilian in die landdroshof in Bishop Lavis gesê sy kliënt is ’n private speurder en daarom het hy wettig opgetree, sou hy Kinnear se selfoon nagespoor het. Hy het ook ’n sertifikaat ingehandig ter stawing dat Kilian ’n private speurder is.

Die aanklag van bedrog hou verband met die sertifikaat.

’n Netwerk24-ondersoek het egter getoon Kilian is nie by die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) geregistreer nie.

Oupa Mamabolo, woordvoerder van Psira, het ook bevestig Kilian is nie by dié organisasie geregistreer nie.

• Drie van Booth se vermeende aanvallers, Kauthar Brown (35), Ebrahim Deare (36) en Riyaad Gesant (32), se borgtog is in September in die landdroshof in Kaapstad geweier. Brown, Deare en Gesant staan in die landdroshof in Kaapstad tereg op aanklagte wat verband hou met die Wet op Georganiseerde Misdaad, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, en aanklagte wat verband hou met die verbreking van die regulasies van die Wet op Rampbestuur.

Brown, Deare en Gesant is almal op 6 Mei die aand by ’n huis in Argylestraat, Woodstock, in hegtenis geneem.

’n Derde man, wat intussen ’n staatsgetuie geword het, en Brown se suster, Kim Smith (32), is ook die aand in ’n wit Hyundai Creta by die Total-vulstasie in Albertweg, Woodstock, in hegtenis geneem.

Die saak teen hulle is op 9 Oktober tot 10 November vir verdere ondersoek uitgestel.

Booth wou nie Maandag kommentaar lewer nie.

* Die storie is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is. 

Meer oor:  William Booth  |  Zane Kilian  |  Selfoonsein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.