Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Kilian moet kan bewys hy spoor seine wettig na'

Zane Kilian (39), wat teregstaan op die moord van lt.kol. Charl Kinnear (52) op 18 September voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, het drie dae nadat hy sy sertifikaat van die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) in Maart ontvang het, Kinnear se selfoonseine begin naspoor.

Netwerk24 het vroeër berig dat Kilian Kinnear se selfoon vir maande nagespoor het voordat hy koelbloedig doodgeskiet is.

Op die dag van sy moord is Kinnear se selfoon van omstreeks 08:00 tot kort ná 15:00 nagespoor.

Daily Maverick het daarna berig dat Kinnear se selfoon sedert Maart vanjaar tot met sy dood meer as 2 000 keer nagespoor is.

Adv. Eckhardt Rosemann, Kilian se regsverteenwoordiger, het Vrydag in die landdroshof in Bishop Lavis die Psira-sertifikaat as ’n bewysstuk by die hof ingedien.

Hy het aangevoer dat sy kliënt (Kilian) ’n geregistreerde private speurder is en dat hy geen wet oortree het nie sou hy Kinnear se selfoonseine nagespoor het soos wat die staat beweer nie.

Kilian staan behalwe die aanklag van moord ook tereg op ’n aanklag van sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

Zane KilianFoto: Facebook

Maar intussen het ’n private speurder, wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, gesê wat Kilian gedoen het, is onwettig.

Die private speurder het gesê slegs die polisie mag ’n persoon of persone se selfoonseine naspoor, en slegs as hulle ’n lasbrief het wat deur ’n regter of landdros onderteken is.

Dan moet die polisie ook kan bewys die lasbrief is vir ’n misdaadondersoek nodig.

Murray Hunter, ’n navorser oor digitale regte, het Maandag gesê Kilian het beslis onwettig opgetree. Volgens Hunter is daar slegs twee situasies waarin mense se selfoonseine nagespoor mag word.

En die wet is volgens hom baie duidelik hieroor. Die eerste is wanneer die polisie ’n hoëvlakondersoek na misdaad doen, en dan moet hulle by ’n regter of landdros om ’n lasbrief aansoek doen om iemand se selfoonseine na te spoor of kommunikasie te onderskep.

Hunter het ook gesê wanneer iemand se selfoonseine, soos in die geval van Kinnear, nagespoor word en die persoon of persone wat dit gedoen het voer aan dat hulle binne die wet opgetree het, moet hulle kan bewys dat hulle, soos in Kinnear se geval, sy toestemming gehad het.

“Slegs ’n private individu kan toestemming gee dat sy selfoonseine nagespoor word as die polisie dit nie met ’n wettige lasbrief kan doen nie.

“Hy sal moet kan bewys dat kol. Kinnear hom toestemming gegee het,” het Hunter gesê.

Hunter het ook gesê Rica-wetgewing maak egter voorsiening vir ’n lewe-of-dood-noodgeval.

“In só ’n geval kan die polisie die netwerkverskaffer vra dat ’n persoon se selfoonsein nagespoor word, maar hulle sal agterna ’n lasbrief moet kry en dit aan die netwerkverskaffer oorhandig om op rekord te hou.”

Die staat beweer dat Kilian die bepalings van art. 49, saam gelees met art. 51 (b) van die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en die verskaffing van Kommunikasie-verwante inligting 70 van 2002, oortree het.

Kilian verskyn weer Woensdag in die landdroshof in Bishop Lavis waar die staat dan sal sê by watter streekhof sy borgtogaansoek aangehoor sal word.

Meer oor:  Zane Kilian  |  Charl Kinnear
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.