Die DA in die Noord-Kaap doen ’n beroep op die polisie in Kimberley om patrollies by misdaadbrandpunte op te skerp.
Volgens dié party skitter die Sol Plaatje-munisipaliteit in sy afwesigheid om infrastruktuur te beveilig.

Werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit herstel 'n kabel wat deur kabeldiewe opgegrawe is.
“Ons beroep volg ná Woensdagoggend se poging deur koperdiewe om meer as een kilometer se koperkabels in die Kamfersdam-gebied te steel,” sê Ockert Fourie, DA-raadslid.
Hoewel die vermeende diewe nie met die koperkabels weggekom het nie, het hulle ’n lang sloot langs die N12 gegrawe sonder om opgemerk te word.
’n Aantal huishoudings, sowel as die Witdam-polisiekantoor, is vir ure sonder elektrisiteit gelaat nadat die kabels geknip is.
Fourie sê sommige inwoners in die omgewing vrees nou vir hul lewens.
“As die Sol Plaatje-munisipaliteit net veiligheidsmaatreëls gehad het, insluitende roetine-patrollies, sou die onnodige kragonderbreking voorkom kon word. Die munisipaliteit kan egter nie eens sy nasionale sleutelpunte beveilig nie weens ’n gebrek aan gekwalifiseerde veiligheidsbeamptes en voertuie.”
Fourie sê dit is ondanks toenemende diefstal en vandalisme van munisipale infrastruktuur.
“Trouens, nadat die kabels gister reggemaak is en die krag herstel is, het die munisipaliteit nie eens die moeite gedoen om die slote toe te maak nie, wat dit vir die kabeldiewe maklik maak om weer toe te slaan.”
Hy sê die munisipaliteit se aangepaste begroting gee min hoop dat bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel sal word.
“In die lig van die onlangse kansellasie van die aanstelling van 28 veiligheidspersoneellede, sal die DA die saak weer in die raad ophaal. Ons sal ook vrae vra rakende die strafsaaknommers ten opsigte van elk van die voorvalle van diefstal, want ons is bekommerd dat Sol Plaatje dit onder die radar kan laat gly.”
Die party gaan ook ’n brief rig aan genl.maj. Henriette de Waal, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, om te vra vir meer gereelde patrollies in die betrokke gebied.