Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kind se pa slaan blaser van rugbywedstryd in Springs

Die Brakpan-rugbyklub aan die Oos-Rand het ’n voorval ten sterkste veroordeel waar een van sy rugbyspelertjies se pa ’n skeidsregter in Springs na bewering oor ’n geelkaart aangerand het.

JP Nel is Saterdag aangerand nadat hy by ’n rugbywedstryd die skeidsregter was.

JP Nel, ’n onderwyser van Vanderbijlpark wat die afgelope 13 jaar wedstryde blaas, sê hy het ’n klag van aanranding teen die pa by die polisiekantoor in Springs ingedien.

Die voorval het Saterdag by die Springs-rugbyklub gebeur waar klubspanne aan ’n byeenkoms van die Valke-rugbyunie se junior-rugbyliga deelgeneem het.

Die Valke-unie het intussen ook gesê hy oorweeg regstappe teen die pa.

Die aanranding volg nadat Nel in die o.12-wedstryd tussen die spanne van Brakpan en Boksburg geblaas het.

Brakpan, wat verloor het, kon in dié wedstryd nie ’n enkele punt aanteken nie.

Volgens Nel was die pa wat hom aangerand het ontevrede oor ’n geelkaart en strafdrie wat hy teen Brakpan weens ’n hoogvat toegeken het.

Nel sê die ouer het hom na die kleedkamer gevolg en geskreeu: “Dis tyd om houe uit te deel.”

“Die ouer het my met sy vuis in die gesig geslaan. Gelukkig het iemand verbygeloop wat hom kon kalmeer. My trui was vol bloed,” sê hy.

Nel moes twee steke aan sy mond kry en weens ’n besering aan sy kaak het die dokters hom aangeraai om tot die einde van die maand net sagte kos te eet.

“In my loopbaan as skeidsregter is ek al gevloek en aan die bors gegryp, maar dit was die eerste keer wat iemand my bygedam het,” sê hy.

Die ouer het my met sy vuis in die gesig geslaan. Gelukkig het iemand verbygeloop wat hom kon kalmeer. My trui was vol bloed.
Nel

Harry Nieuwenhuis, voorsitter van die Brakpan-rugbyklub, het bevestig die pa is ’n ouer van een van sy klub se rugbyspelers. Hy was huiwerig om die pa se naam bekend te maak aangesien ’n interne ondersoek nog nie afgehandel was nie.

“Dis nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Wen het te belangrik geword,” sê Nieuwenhuis.

Ettienne de Lange, waarnemende uitvoerende hoof van die Valke-rugbyunie, sê weer die aanranding was ’n geïsoleerde voorval.

Daar het die afgelope jaar sowat 430 wedstryde in die liga plaasgevind waar dit die tweede voorval van aanranding is, sê hy. Op een byeenkoms speel daar tot 1 400 seuns rugby.

“Ons sal beslis met ’n vergrootglas na die liga kyk, want dié soort goed moet glad nie gebeur nie. Ons het die betrokke pa geïdentifiseer en oorweeg regsoptrede,” sê De Lange.

Nieuwenhuis sê die pa het die klub se naam deur die modder gesleep.

“Ons gaan nie teen die kind optree nie, maar ek wonder of die pa sy seun gaan toelaat om weer vir ons uit te draf. Dis hartseer, want die kind wou net rugby speel,” sê hy.

Die polisie het nog nie op Netwerk24 se navrae reageer nie.

Meer oor:  Springs  |  Rugbywedstryd  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.