Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kind se pa wil ander maan ná seun ‘verkrag’

Die Kaapse pa van ’n sewejarige meisie wat glo deur ’n 13-jarige seun verkrag is, dreig om pamflette by die skool se hek uit te deel om ander ouers te waarsku dat daar ’n “verkragter” saam met hul kinders op die skoolbanke sit.

Die seun is aangekla van die verkragting, maar die hof en polisie wag nog dat hy deur ’n psigiater by die Valkenberg-hospitaal in Pinelands geassesseer word om te bepaal of hy verhoor kan word. Dít kan moontlik eers volgende jaar gebeur.

Intussen is die saak teen die seun voorlopig teruggetrek en die skool het geen gronde om hom weg te wys nie.

Die pa sê sy kind is tussen Oktober 2019 en November verlede jaar herhaaldelik verkrag.

Die aanklaer het vir hom gesê hy verwag daar sal eers in Julie 2022 ’n psigiater beskikbaar wees vir die assessering. Omdat die seun só jonk is moet dié proses eers gebeur voordat die verhoor kan aangaan. Die verhoor kan daarna nog vier tot ses jaar duur, het die aanklaer vir die pa gesê.

‘Psigiater eers in Julie ’22 beskikbaar.’

Daar is volgens die aanklaer geen plig op die departement van maatskaplike dienste of justisie om die skool van die beweerde verkragting in te lig nie.

Die pa sê hy het die skoolhoof self ingelig oor die “verkragter” op die skoolbanke, waarop die hoof regsadvies ingewin het en gesê het daar is niks wat die skool kan doen nie.

“Ek kan nie glo daar is nie ’n enkele ouer op die dorp wat nie sou wou weet dat die seun van verkragting aangekla is nie,” sê die pa.

“ ’n Seksuele roofdier word toegelaat om die res van sy hoërskoolloopbaan op skool en in die strate van die breë gemeenskap deur te bring, anoniem. ’n Muur van stilte beskerm die seun. Druk moet op die howe geplaas word om die verhoor te bespoedig.”

Die seun se ouers wou geen kommentaar lewer nie.

’n Woordvoerder vir die onderwysdepartement, Bronagh Hammond, sê as ’n kind ’n gevaar vir die samelewing inhou, sal die departement van maatskaplike dienste, die SAPD of die departement van justisie die skool inlig.

Sy sê die seun het ’n wettige reg om skool by te woon, want hy is nog nie aan ’n misdaad skuldig bevind nie.

Hammond sê die skool se gedragskode maak net voorsiening daarvoor dat ’n leerling wat aan ’n misdaad skuldig bevind is, verwyder kan word. Die beweerde geval hou ook nie verband met die skool nie.

“Die leerling het ’n onbesproke geskiedenis by die skool en daar was nog geen rede tot kommer vandat hy op skool is nie.”

Die departement sal albei ouerpare bly ondersteun.

Volgens Hammond is daar geen syfers bekend van hoeveel leerlinge wat verhoorafwagtend is wat skole bywoon nie.

Adv. Karabo Ozah, direkteur van die sentrum vir kinderregte in die regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria, sê die Kinderwet bepaal hoe ’n kind wat van ’n misdaad beskuldig word, beskerm moet word. Die kind moet in die sorg van sy ouers gelaat word hangende die verhoor.

Die wet, saamgelees met die Strafproseswet, verbied uitdruklik enige publikasie van besonderhede oor die kinderslagoffer, -getuie of die jeugdige oortreder. Die verhoor geskied ook in camera en slegs die mense wat direk by die saak betrokke is, word in die hof toegelaat.

As die leerlinge nie die skool se gedragskode oortree het en deur ’n dissiplinêre proses by die skool is nie, sal die skool gewoonlik geen grond hê om hom toegang te weier nie, sê Ozah.

Dit is egter ’n probleem dat die hofproses so lank sloer, sê sy.

Meer oor:  Bronagh Hammond  |  Karabo Ozah  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.