Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kind uit mense-handelaar se kloue gered

’n Sesjarige Mosambiekse seun is van ’n lewe van slawerny gered nadat die vrou wat hom in 2018 oor die grens gesmokkel het tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis is.

Judith Nyantumba (57) is Donderdag aan mensehandel skuldig bevind en is in die streekshof in Carolina, Mpumalanga, gevonnis.

Kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê Nyantumba het die seun in Mei 2018 uit Mosambiek die land ingesmokkel en hom sonder betaling vir haar laat werk.

“Hy het daaglikse take in haar huis verrig, soos om na ander kinders om te sien, hulle te voer en om die huis skoon te maak.”

Volgens Sekgotodi het die vrou se bure onraad vermoed en kort daarna die polisie van dié seun in kennis gestel.

“Die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het die saak onmiddellik oorgeneem en verseker dat die verdagte aan die pen ry.”

Sekgotodi sê die seun word nou in ’n plek van veiligheid gehou totdat hy na Mosambiek kan terugkeer. Sy sê daar word tans na sy ouers gesoek.

Amanda de Swart van die traumasentrum in die Malelane-polisiekantoor, naby die grens met Mosambiek, sê gevalle soos hierdie een is algemeen.

“Mense kom baie maklik oor die grens sonder die nodige dokumentasie. Hulle bring kinders van Mosambiek na Suid-Afrika om in fabrieke te werk, seksslawe te wees en om dwelms te verkoop.”

De Swart sê baie van dié kinders beland dan in die Uthandiwe-kinderhuis in Malelane wanneer die polisie die mensehandelaars voorkeer.

“ ’n Mens weet nie altyd waar om te begin soek na die kinders se ouers nie omdat hulle geen dokumente het nie. Een kind was vier jaar oud toe sy by die kinderhuis aangekom het en haar ouers is eers opgespoor toe sy 11 jaar oud was.”

Om onwettig die land binne te kom sal jou sowat R50 kos. Niemand kyk na dokumentasie op die grensposte nie.

Sy sê die trauma waardeur dié kinders gaan vat etlike jare om te genees.

“Hulle het geen lewe of toekoms in Suid-Afrika nie omdat hulle nie gedokumenteer is nie. Hulle moet wag sodat hul ouers opgespoor word voordat hulle na hul tuisland kan teruggaan.”

De Swart sê ’n beginpunt om dié probleem op te los is om beter kontrole by grensposte toe te pas.

“Om onwettig die land binne te kom sal jou sowat R50 kos. Niemand kyk na dokumentasie op die grensposte nie.”

Sy sê die traumasentrum en die kinderhuis doen ook baie bewusmaking onder ouers en kinders.

“Daar is mense wat kinders na Suid-Afrika lok met beloftes. Die kinders gryp dan na hoop wat eintlik nie bestaan nie.”

De Swart sê hulle leer mense om op die uitkyk te wees vir tekens van mensehandel en die gevaar daarvan.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, het die ondersoek- en vervolgingspan geloof vir hul vinnige werk.

Mokoena moedig die publiek aan om gevalle aan te meld waarin kinders uitgebuit word.

Meer oor:  Valke  |  Mpumalanga  |  Mosambiek  |  Kind  |  Mensehandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.