Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinderlyke in riviere, riete en op vullishope

Hulle het net by maats gaan kuier of in ’n parkie gaan speel.

Vermoor en verbrand: Kgothatso Molefe (6).
Ontvoer en vermoor: Sibusiso Dakuse (12).
Vermoor, op vullishoop gevind: Michaela Williams (12).

Nou is hulle deel van die ongenaakbare statistieke: 943 kinders is die afgelope geldjaar in die land vermoor. Meer as 24 000 kinders was die slagoffers van seksuele misdade, meer as 10 000 is aangerand en 7 050 is aangerand met die doel om hulle ernstig te beseer, blyk uit die jongste polisiestatistieke.

Carmen van Wyk en Terence Manuel het verlede Sondag die eerste keer die toneel besoek waar hul agtjarige dogter se lyk in Februarie gevind is.

Tazne van Wyk het weggeraak toe sy na die winkeltjie reg oorkant haar ouerhuis in Elsiesrivier, Kaapstad, gestap het. Ná ’n dae lange soektog is haar lyk in ’n vloedwaterpyp langs die N1 naby Worcester gevind.

“Dit het ons maande geneem om moed bymekaar te skraap om te kyk waar sy gevind is. Die pyn en seer is steeds met ons,” sê Carmen.

Ook onder die jong moordslagoffers in die Wes-Kaap is Reagan Gertse (8), Imaan Solomons (7), Sibusiso Dakuse (12) en Michaela Williams (12).

Ontvoer en vermoor: Tazne van Wyk (8).
Verkrag en verwurg: Reagan Gertse (8).
Noodlottig gewond in bende-geveg: Imaan Solomons (7).

Dat die 943 kindermoorde 71 minder as in die vorige geldjaar is, is skrale troos vir die naasbestaandes van dié kinders.

Reagan is in Tulbagh ontvoer nadat hy vir sy ma gesê het hy gaan by maatjies speel. ’n Dag later het sy pa, Ricardo Davids, sy lyk in ’n riviertjie tussen die bosse gekry. ’n Lykskouing het gewys Reagan is verkrag en verwurg.

’n 54-jarige familielid van Reagan word aangekla van die ontvoering en moord.

Imaan het in die erf voor haar ouerhuis in Ocean View, Kaapstad, gespeel toe drie bende­koeëls haar in die bors tref. Sy is by haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

’n Lid van die 27-tronkbende en een van die Junky Funky Kids (JFK) word van moord en poging tot moord daaroor aangekla.

Sibusiso Dakuse het in Mandela Park, naby Houtbaai, weggeraak toe hy en sy maats gaan speel het. Sy lyk is ’n paar dae later tussen riete op die plaas Kronendal gekry. ’n 23-jarige basketbalafrigter word van die moord aangekla.

Michaela Williams se ma, Beatrice Adams, het uit die bad geklim en na haar dogter gesoek, maar haar nooit weer lewendig gesien nie. Sy het in New Horizon, Grassy Park, weggeraak.

Haar lyk is op ’n vullishoop gekry. ’n Man wat met die soektog gehelp het, het haar glo vermoor.

Naby Burgersfort in Limpopo het Lucas Phasha in Februarie gesê hy sal na sy vier kinders kyk en hulle uit die motor laat klim waarmee hulle van die skool huis toe geneem is. Katlego (9), Joyce (7), Tshepo (5) en Adel Phasha (3) se lyke is later met steekwonde op verskillende plekke enkele kilometers van hul huis gevind.

Die 16 maande oue Alime Mbasha is voor haar ma, Nadia Saayman, keelaf gesny op ’n plaas naby Buffeljagsrivier in die Wes-Kaap. Haar pa word van die moord aangekla.

Waarom Johan Neethling (69) van Kaapzicht, Kaapstad, sy sewejarige seun, Dylan (7), doodgeskiet het, sal altyd ’n raaisel bly, want hy het homself ook doodgeskiet.

Mpho Kgoroyagira was ’n jaar oud toe sy uit haar ouerhuis in Jouberton, naby Klerksdorp, ontvoer is.Haar lyk is in Februarie onder ’n klip op ’n leë erf gekry.

En vandag ’n jaar gelede is Kgothatso Molefe se verbrande lyk op ’n vullishoop naby Rustenburg gevind. Dit was vyf dae voordat sy haar sewende verjaardag sou vier. – Saamgestel deur Kelly Minnie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.