Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinder-pornografie: Arrestasies eerder ‘rede tot kommer’

Die vyf verdagtes, wat glo in besit van kinderpornografie was, se inhegtenisneming is nie noodwendig ’n rede om fees te vier nie, maar eerder rede tot kommer.

Miranda Jordan, direkteur van die organisasie Women and Men Against Child Abuse, sê dit is eerder ’n geval van die kommerwekkende krake in die Suid-Afrikaanse regstelsel wat wys.

“Dit is vir ons skokkend dat een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, voorheen skuldig bevind is aan verkragting en seksuele aanranding terwyl hy nog voorwaardelik vrygelaat was; hoe gebeur sulke dinge?” sê Jordan.

Verder het sy verwys na ’n verdagte wat sedert 2012 verhoorafwagtend is op ’n aanklag van die besit van kinderpornografie, alhoewel hy nie in hegtenis geneem is nie.

Aanklag van bestialiteit

Dié verdagte, van Garsfontein in Pretoria, staan ook tereg op ’n aanklag van bestialiteit.

Volgens die polisie is geen inkriminerende bewyse, soos in die ander gevalle, in sy huis opgespoor nie.

Die polisie het wel vir verdere ondersoek op sy selfoon en rekenaar beslag gelê.

“Met dié soort sake word onnodig gesloer en sodoende kan geregtigheid nie geskied nie,” sê Jordan.

Vir Jordan wys die vyf inhegtenisnemings net hoeveel pap die onderskeie departemente in die howe en polisie op die grond laat val.

“Dit is asof mense nog onder die indruk verkeer dat kinderpornografie ’n misdaad sonder slagoffers is, en daarom kan hulle sloer,” sê Jordan.

Volgens Jordan is dit belangrik dat mense moet besef kinderpornografie gaan nie bloot net oor seksdade nie.

Selfs al is daar klere betrokke, enige aktiwiteit wat seksueel stimulerend kan wees vir iemand anders – in hierdie geval pedofiele – is kinderpornografie, sê Jordan.

“En daar is altyd ’n slagoffer, wat dikwels vir jare met trauma worstel,” sê Jordan.

''Seksuele roofdiere''

Die vyf sogenaamde “seksuele roofdiere” is verlede week, dae uit mekaar, in hegtenis geneem met die hulp van die polisie se gespesialiseerde eenheid wat deel vorm van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe en Amerika se departement van binnelandse veiligheid.

Onder die verdagtes is ’n 42-jarige man en pa van drie kinders, asook ’n 62-jarige pensioentrekker wat saam met sy vrou ’n dagsorgsentrum vir kinders bestuur.

Nog twee mans, onderskeidelik 30 en 42, is ook met beeldmateriaal van kinderpornografie in hul besit gevang.

Borgtog

Al vier die mans het reeds in verskillende howe verskyn en is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Volgens kol. Brenda Muridili, Gautengse polisiewoordvoerder, moes die verdagtes hul paspoorte inhandig en hulle moet hulle twee keer per week by hul naaste polisiekantoor aanmeld.

Die pensioentrekker mag ook nie ’n voet by die dagsorgsentrum, wat sy vrou bestuur, sit nie.

Die vyfde verdagte van Kempton Park, wat voorheen aan verkragting en seksuele aanranding skuldig bevind is, bly nog in aanhouding. Die man is ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê wat op 15 Maart sou eindig.

Hy moet weer later in Februarie in die hof verskyn.

Die polisie se operasie om kinderpornografie in Suid-Afrika ’n nekslag toe te dien, duur oor die land heen voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.