Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinders dalk ook bedwelm in Brakpan-treurspel

Die polisie het Donderdag gesê ’n bekentenis kan moontlik Vrydag gemaak word oor ’n gesinsmoord wat Woensdag by ’n huis in Sallies Village in Brakpan aan die Oos-Rand gepleeg is.

’n Man het Woensdag omstreeks 18:00 die polisie en brandweerdienste na die huis in Modderstraat ontbied nadat hy op die lyk van sy vrou (40), twee dogters (17 en 19 jaar oud) en hul tienjarige seun afgekom het. Die name van die gesin is aan Netwerk24 bekend, maar is nog nie amptelik deur die polisie vir publikasie deurgegee nie. “Die 41-jarige pa het dadelik die owerhede ontbied, want die huis is ook binne aan die brand gesteek,” sê kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder.

Brandbestryders het die vlamme in die sitkamer geblus.

“Vier skote is geskiet en die 9 mm-pistool het langs die vrou op die vloer gelê. Niemand van die bure het die skote gehoor nie. Kruittoetse is op die toneel gedoen en die uitslag word binne ’n week verwag. Die vuurwapen behoort aan die pa van die gesin,” het Van Staad aan Netwerk24 gesê.

Die egpaar het glo ’n geskiedenis van gesinsgeweld.

“Toe die pa ondervra is, het hy gesê dat hy by die werk was toe die voorval plaasgevind het,” sê Van Staad.

’n Saak van driedubbele moord en ’n geregtelike doodsondersoek is gelas. Niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Intussen het ’n lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) wat op die toneel was aan Netwerk24 gesê dit lyk asof die gebeure haarfyn beplan is.

Die lid, wat anoniem wil bly, sê ’n vriend van hom het hom laat weet van rook wat by die huis uitborrel.

“Ek was binne tien minute daar, toe het my vriend reeds van die matrasse uit die huis gesleep. Die ambulans en brandweer is ook ontbied.”

Hy sê na wat hy verneem het, het die vrou glo geld by haar man gevra om klere vir die kinders te koop.

“Hy het vir haar die kluissleutel gegee en dit is hoe sy by die pistool uitgekom het.”

Volgens die GPF-lid was hy tot Donderdag omstreeks 05:30 op die toneel toe die laaste van die gesinslede se lyke verwyder is. Hy het die polisie vergesel toe die man die huis in is om sy klere te gaan haal.

“Die huis het verskriklik na rook gestink. Daar was nie ’n draad klere van hom in die kas nie, dit was alles in kartondose,” sê die GPF-lid.

Hy sê die lyke van die gesin se twee dogters was op banke in die sitkamer en die seun het half onder ’n tafel gelê. Die vrou se lyk was op ’n ander stoel.

“Dit lyk asof die kinders moontlik bedwelm is voordat hulle geskiet is.”

Meer oor:  Brakpan  |  Gesinsmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.