’n 15-jarige leerling van Bloemfontein is getraumatiseer nadat twee mans hom Donderdag ’n hanetree van ’n middagstudieklas oorrompel en van sy selfoon beroof het.
Die gr. 9-leerling, wat in Murray-huis op Grey-kollege se skoolterrein tuisgaan, het buite die hekkie van die A+ Educare-sentrum in Jock Meiringstraat, waar hy ná skool ekstra klas ontvang, gewag om in te gaan. Dit is waar die twee mans sy kop teen die grond gedruk en sy selfoon afgevat het.
Hy is nie erg beseer nie, maar is getraumatiseer. Geen klag is by die polisie ingedien nie.
Dit is die tweede geval in minder as ’n week in die stad waar leerlinge van hul selfone beroof is.
Nog ’n groep leerlinge, wat ook in Murray-huis woon, is verlede Saterdag in ’n winkelsentrum ook van hul selfone beroof.
Kim Prinsloo, koshuismoeder van Murray-huis, sê die mans het die leerlinge aan hul skooluniforms uitgeken en met ’n “Grey-shake” gegroet.
“Die mans het ’n rukkie met die seuns gesels en toe ’n bietjie aan hulle begin stamp. Toe die seuns wegloop, het een gevoel dat sy selfoon nie meer in sy sak is nie.”
Prinsloo meen leerlinge wat in hul skoolklere in die openbaar verskyn, is maklike teikens.
“Deesdae het byna elke kind ’n selfoon en mense weet dit. Ek wens ons kan hulle leer hoe om meer paraat en versigtig te wees om situasies soos dié te vermy.
“Gelukkig het al die leerlinge fisiek niks oorgekom nie.”