’n Lykskouing sal Dinsdag gedoen word op ’n pasgebore baba wie lyk langs ’n kanaal in Uitenhage in ’n verfblik gekry is.
Dit blyk dat ’n groep kinders, wat Donderdag by die kanaal langs Gamblestraat gespeel het, op die 20-liter-verfblik afgekom het.
Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, sê die omstandighede rondom die vonds word ondersoek. Daar is geen veiligheidskameras in die gebied wat die polisie vir leidrade kan nagaan nie.
Die lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van die baba se dood te probeer bepaal.
Die polisie het intussen ’n beroep gedoen op die gemeenskap om na vore te kom met inligting wat in die ondersoek kan help. Enigiemand met inligting word gevra om speur-ao. Deon Roos by 079 896 8148 te bel of die Uitenhage-polisiekantoor by 041 996 3438 te skakel.