Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SPESIALE VERSLAG: Kinders se noodkreet

Kinders in die Wes-Kaap is besonder blootgestel aan misdaad, misbruik, mishandeling en verwaarlosing. Malherbe Nienaber het ondersoek ingestel.

Foto: iSTOCK

Die Wes-Kaap het vanjaar weer die meeste misdade teen kinders in die land gehad luidens vanjaar se misdaadsyfers, terwyl derduisende kinders weens verwaarlosing en mishandeling uit hul ouerhuise verwyder word.

Uit die 45 229 kontakmisdade teen kinders in die boekjaar 2018-’19 is 9 366 (20,7%) in die Wes-Kaap aangemeld – meer as in enige ander provinsie. Dit sluit in misdade soos moord, poging tot moord, aanranding en seksuele misdrywe.

Seksoortredings het verreweg die grootste persentasie misdade teen kinders landwyd uitgemaak, met 24 387 (53,9%) sake uit die 45 229 wat aangemeld is.

Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het beklemtoon dat slegs ’n benadering waar die samelewing as geheel betrek word die “demoniese geweldsdade” wat kinders ervaar kan stopsit. Sy het onlangs met kenners in die veld van voorkoming- en vroeë-ingrypingsdienste van oor die provinsie heen vergader om “volhoubare oplossings te vind om ons kinders te beskerm”.

Volgens Fernandez het die departement reeds die behoefte uitgewys om kinderbeskerming op ’n “sistemiese vlak” te verbeter, met ’n sterk fokus op die familie.

“Die welstand van die familie is kritiek vir die werking van die samelewing in sy geheel. Verder verhoog enige afbreek in die funksionering van families en hul vermoë om versorging te bied die kwesbaarheid van sy lede.

“In Suid-Afrika is die kinderbeskermingsbeleid inklusief en bied dit ’n raamwerk om die welstand van families met kinders te bevorder, veral arm en kwesbare kinders wat sorg en beskerming benodig. Ons moet egter seker maak dat die toewysing van hulpbronne, die aanbod van programme en die praktyk van kinderbeskerming wegbeweeg van ’n grootliks reaktiewe benadering tot ’n voorkomende benadering.”

Verder word rondom 13 000 kinders se bevel vir pleegsorg elke jaar verleng en die bevel duur gewoonlik twee jaar op ’n slag.

Kinders in pleegsorg

Volgens die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling is daar tans 36 176 kinders in pleegsorg of tydelike veilige sorg in die provinsie en word ’n gemiddeld van 4 000 kinders jaarliks in pleegsorg geplaas.

Lees ook

Die skokkende syfers in dié artikel vertel die verhaal hoe blootgestel ons kinders in veral die Wes-Kaap is. Dit is ’n oproep tot groter betrokkenheid en sorg, gerig aan ons elkeen.

Lees Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, se brief hier.

Verder word rondom 13 000 kinders se bevel vir pleegsorg elke jaar verleng en die bevel duur gewoonlik twee jaar op ’n slag.

Net sowat 300 tot 400 kinders word jaarliks uit alternatiewe sorg met hul ouers herenig en rondom 350 van die kinders in pleegsorg word aangeneem, het die departement aan Die Burger bevestig.

Joshua Chigome, Fernandez se woordvoerder, het verduidelik dat kinders tot die ouderdom van 18 jaar in alternatiewe sorg bly, tensy hulle ’n versoek rig om tot die ouderdom van 21 jaar aan te bly om te studeer.

Nie al die kinders in pleegsorg, tydelike veilige sorg of sorgsentrums vir die jeug kom egter van “gewelddadige huise” af nie en kinders word ook daar geplaas as hulle wees gelaat is, agter gelos of verwaarloos word.

“Altesaam 279 kinders is verlede jaar in die Wes-Kaap vermoor en duisende meer word aan mishandeling en verwaarlosing blootgestel. Daarom is ’n provinsiale aksieplan vir kindermoorde ontwikkel wat ’n belegging in vroeër waarskuwingstelsels insluit om die departement te help om kinders wat in gevaar is vroeg genoeg uit te wys om in te gryp en hulle te beskerm.”

Daar is ook 1 500 maatskaplike werkers in die provinsie in vergelyking met 503 beskikbare poste tien jaar gelede.

Chigome sê die gesondheidsdienste en onderwyssektor het met die polisie, die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, maatskaplike dienste en nieregeringsorganisasies saamgespan om die onaanvaarbare hoë vlakke van kindermishandeling in die Wes-Kaap te probeer bekamp.

Die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling het ook gegroei van een hoofkantoor en 16 distrikskantore in 2009 tot 45 plaaslike kantore en verskeie dienspunte of satellietkantore in 2018.

Dit het die departement se reikwydte met 176% oor die afgelope 10 jaar laat toeneem om dienste ander aan kwesbare, mishandelde mense en veral kinders te bring.

Daar is ook 1 500 maatskaplike werkers in die provinsie in vergelyking met 503 beskikbare poste tien jaar gelede.

Die departement se kindersorg en -beskermingsprogram mik daarop om kinders se welstand te beskerm en bevorder en die veerkragtigheid van families en gemeenskappe uit te bou om vir hul kinders te sorg.

Dit lewer dienste om die publiek op te voed, voorkomingsprogramme wat kinders, ouers, families en gemeenskappe teiken en fokus op ouers se regte en verantwoordelikhede.

Vir kinders met riskante gedrag is daar ’n reeks programme en dienste, waaronder veiligheid- en risiko-assesserings, terapie en sielkundige dienste, tydelike sorg, steunprogramme vir kinders wat alternatiewe sorg gaan verlaat en programme vir kinders op straat.

Daar is ook 1 500 maatskaplike werkers in die provinsie in vergelyking met 503 beskikbare poste tien jaar gelede.

Daarby behartig die departement programme vir pleegsorg, aannemings en die hereniging van kinders met hul families.

Met sy program vir slagofferbemagtiging is die departement ook verantwoordelik vir die verskaffing van ondersteuningsdienste aan slagoffers van misdade, onder meer veilige verblyf en berading.

Die department finansier ook 16 skuilings in die provinsie wat slagoffers en hul kinders vir tot drie maande huisves en vier noodskuilings wat slagoffers vir tot twee weke kan woonplek bied.

Verlede maand het Fernan-dez by ’n streeksberaad oor trauma by kinders gesê haar departement is uiters bekommerd dat sowat 36 000 kinders uit hul ouerhuise verwyder en in plekke van veiligheid geplaas moes word.

Siklus van geweld

“Ons samelewing se maatskaplike weefsel word deur die siklus van geweld, seksuele mishandeling, alkohol- en dwelmmisbruik en die verbrokkeling van die gesinseenheid uitmekaargeskeur,” het sy gesê.

  • Voorvalle van kindermishandeling kan by die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling se SMS-blitslyn by 31022 aangemeld word, deur die woord “help” te stuur.

Die departement kan by 0800 220 250 of SD.CustomerCare@westerncape.gov.za gekontak word. Voorvalle kan ook aangemeld word aan die polisie by 10111, Childline by 08 000 55 555 en Kinderwelsyn Suid-Afrika by 074 080 8315.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Kinders  |  Misdaad  |  Misdaadsyfers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.