’n Man van Chakaville in Petrusburg is lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy ’n vyfjarige van die dorp verkrag het.
Thabiso Mzoboshe (40) is verlede week lewenslank tronk toe gestuur nadat hy in November 2017 ’n vyfjarige meisie wat op pad na ’n winkel was, na sy huis gelok en verkrag het.
Die meisie het haar ma van die voorval vertel wat op haar beurt dit by die polisie aangemeld het.
Volgens Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, is Mzoboshe die dag van die voorval aangekeer.
Sy DNS is positief met die toneel verbind. Hy het ook oor die voorval gebieg.
Hy was tot sy vonnisoplegging in aanhouding.