Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kingdom Grant-skema: ‘Hier kom jul miljoene nou’

Al wag hy tot die dag van sy dood vir die geld wat hy uit die Kingdom Grant-skema moet kry, maak dit nie saak nie. Want geen geleentheid sal ooit weer naby dit kom nie.

Hanlie Burger en Emsie Brohmer (voor) en Maureen Graupner en Louis Fourie in April 2020 by die kantore van Universal Holdings Capital.

So sê Hennie Dercksen (50) van Christiana, wat een van die talle Suid-Afrikaners is wat reeds jare wag vir die uitbetalings van dié toelaeskema, wat beweer dat dit op Christelike beginsels gegrond is.

Dercksen moet vir sy 40 eenhede in die program R200 miljoen uitkry. Teen registrasiegeld van R3 500 per eenheid het hy R140 000 daarvoor betaal.

Hanno Bekker, ’n prokureur van Bloemfontein en direkteur van Europlaw Central, wat blykbaar as “tussenganger” tussen beleggers en die skema optree, het Woensdag gesê minstens R50 miljoen het die afgelope week in die land aangekom. Dit moet nou aan beleggers uitbetaal word.

Hy sê hulle het reeds begin met die betalingskedules. Wanneer presies mense hul geld sal ontvang weet hy nie, maar hy het reeds gevra dat ’n tydlyn in dié verband verskaf word.

“Die mense wat hul geld moet kry is redelik rustig en dié wat saamwerk is on par.”

As gelowige kan hy Slaughter nie oordeel.

Begunstigdes is Vrydag per WhatsApp-stemnota deur Bekker laat weet die fakture is voltooi en hy het sy lyste “na die hoofkantoor” deurgestuur.

Bekker het vroeër aan Rapport gesê Europlaw tree as tussenganger op om finansiering te verkry. Dit nadat dit aan die lig gekom het dat Stephen Slaughter, direkteur van Universal Holdings Capital (UHC), miljoene rande aan Europlaw oorbetaal het.

UHC het die skema genaamd Kingdom Grant Program begin. Sowat 4 360 mense het “eenhede” in die program bekom wat hulle geregtig sou maak op ’n “toelae” van R5 miljoen.

Die persoon wat finansiering vir ’n projek soek, moet 1% van die leningsbedrag betaal as ’n transaksieheffing. Volgens Europ­law word dié lenings deur die Ithuba Credit Corporation in New York gefinansier.

Dercksen sê hy wil die R200 miljoen wat hy moet ontvang in sy boerdery gebruik.

Die afgelope jare is hy deur diep water, maar hy vertel van sy diep geloof en hoe die Here meermale op die plaas voorsien het. Ná ’n lang droogte het hy vyf jaar gelede ophou boer en sy plaas verkoop “voordat daar niks oor was nie”.

Hy het aanlyn op die markte begin handel dryf en toe hy met een transaksie 410% wins verdien, het hy besef hy kan ’n lewe daaruit maak.

Kort daarna het hy en sy pa egter saam R10 miljoen verloor in die sogenaamde Gloucester-groep-slenter in Hongkong.

“In dié tyd het die Kingdom Grant-program oor my pad gekom. Ek het in daardie stadium gevoel dis ’n menslike poging.

“Ek het betrokke geraak, want die geld word vir jou geskenk en jy moet net die R3 500 registrasiegeld betaal. Dit was vir my ’n klein prys om te betaal. Ek het geweet ek gaan nie kleinkoppie trek nie, want al vat dit ’n leeftyd is dit steeds die grootste halleluja wat na jou toe kom.

“Die Kingdom Grant-program was van die begin af vir my ’n hartsaak gewees en ’n wonderlike uitkoms. Wie kan R3 500 gee en R5 miljoen kry?

“Die R3 500 is basies ’n skenking om die stelsel aan die gang te kry. Die ding hiervan is dit maak nie saak hoe lank dit vat nie, geen ander geleentheid kan vir jou soveel uitkeer soos hierdie een nie. Om vir daardie bedrag R5 miljoen van ’n organisasie te kry is bonatuurlik.”

Dercksen sê hy weet van mense wat in die lang maande wat hulle vir die geld wag in hul binnekamers huil. Maar as gelowige kan hy Slaughter nie oordeel nie.

Drie mense wat oor die afgelope maande gereeld na Universal Holdings Capital gebel het om navraag te doen oor die toelae, sê hulle is gereeld deur Slaughter se sekretaresses daarop gewys dat hulle nie op die geld geregtig is nie, en dat dit ’n skenking is.

Maureen Graupner, een van die sekretaresses, het die afgelope week gesê sy verkies om nie met Rapport se joernalis te praat nie. “Maureen Graupner reageer op niks nie,” het sy bygelas.

UHC het nie op ’n skriftelike navraag gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.