Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinnear het glo geweet sy bewegings word nagespoor

Die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear het reeds vroeg in September verlede jaar geweet dat sy bewegings deur sy selfoonseine nagespoor word.

Die inligting het hy op 3 of 4 September by ’n adjudant-offisier verbonde aan die Valke in Gauteng gekry. Die inligting is glo terselfdertyd in ’n verslag aan lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, lt.genl. Peter Jacobs, die nasionale hoof van misdaadintelligensie, genl.maj. Mzwandile Tiyo, hoof van misdaadintelligensie in die Wes-Kaap, en genl.maj. Andre Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, gestuur.

Bronne met kennis van die verslag het gesê die adjudant-offisier wat die verslag opgestel het, het onder meer geskryf dat die nasporing onreëlmatig is en dat dit ondersoek moet word omdat dit heel moontlik ’n bedreiging tot Kinnear se lewe kan wees.

Kinnear, een van die speurhoofde by die teenbende-eenheid in die Wes-Kaap, is twee weke later op 18 September in sy voertuig voor sy huis in Gearingweg, Sidneyvale, Bishop Lavis, deur ’n onbekende man doodgeskiet.

Lt.kol. Charl Kinnear, wat op 18 September voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, deur ’n onbekende man doodgeskiet is. Foto: Facebook

Dit het intussen aan die lig gekom dat Lincoln, Kinnear se bevelvoerder, nou departementeel deur die polisie ondersoek word. Luidens ’n kennisgewing wat Donderdag aan Lincoln bedien is, word hy van wangedrag aangekla omdat hy “van 3 tot 18 September 2020 versuim het om beskerming aan Kinnear te gee”.

Die tweede klag is dat hy nie die Wes-Kaap se polisiehoof, lt.genl. Yolisa Matakata, of die hoof van misdaadintelligensie oor ’n moontlike dreigement (teen Kinnear se lewe) ingelig het en derhalwe van die provinsiale hulpbronne tot sy beskikking gebruik gemaak het om Kinnear te beskerm nie.

Verskeie polisiebeamptes in die Wes-Kaap wou Vrydag egter weet hoekom word die ander afdelingshoofde, Tiyo, Jacobs en Lebeya, wat ook van die nasporing ingelig is, dan nie ook aangekla en ondersoek nie?

Kinnear se selfoonseine

Kinnear se selfoonsein is die dag van sy moord altesaam 35 keer nagespoor. Die nasporing het reeds om 02:32:47 die oggend begin. Sy selfoonsein is om 15:25:02 die laaste keer daardie dag nagespoor. Kinnear is om 15:30:20 doodgeskiet.

Sy selfoonsein is in September 2020 altesaam 332 keer nagespoor.

Kinnear se vrese

Kinnear het in Januarie 2019 in ’n beëdigde verklaring gesê dat hy vir sy lewe en dié van sy gesin vrees en gevra dat van sy kollegas verbonde aan die Wes-Kaapse misdaadintelligensie-afdeling ondersoek word. Hy het toe aangevoer dat lede van misdaadintelligensie in private voertuie voor sy huis geparkeer staan en sy huis monitor.

Die voertuie, het Kinnear glo uitgevind, behoort almal aan die misdaadintelligensie-afdeling. Kinnear het vir sy lewe gevrees nadat ’n ander polisielid, kol. André Kay, in November 2019 by sy huis in Bishop Lavis deur onbekende aanvallers doodgeskiet is. ’n Week ná die aanval op Kay is ’n man met handgranate in sy besit voor Kinnear se huis betrap.

Lincoln, Kinnear se bevelvoerder, het daarna gereël dat uniformlede van die teenbende-eenheid statiese beskermingsdienste aan Kinnear en sy gesin verleen.

Kinnear se weduwee, Nicolette Kinnear, het die dag ná sy moord by hul huis gesê dat die beskermingsdienste in Desember 2019 sonder enige rede onttrek is.

Bheki Cele, minister van polisie, het toe geëis dat daar ’n ondersoek moet wees na die redes hoekom beskerming aan Kinnear onttrek is.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het daarna vir lt.genl. Moeketsi Sempe aangestel om die aanvanklike ondersoek te doen.

Sitole het daarna omstreeks einde Oktober vir lt.genl. Francinah Vuma aangestel om ’n verdere interne ondersoek te doen.

Lincoln word nou na aanleiding van aanbevelings in Vuma se verslag aangekla en ondersoek.

Lincoln se terugvoering

Maar in ’n dokument gedateer 27 Januarie 2020, wat aan lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiehoof, gerig is, gee Lincoln ’n chronologiese uiteensetting van die gebeure sedert Kinnear vir sy lewe begin vrees het.

Lincoln beskryf dat hy nadat Kinnear verskeie doodsdreigemente ontvang het, aanbeveel het dat hy teruggaan na die Seepunt-polisiekantoor waar hy voorheen speurhoof was.

Kinnear het glo geweier om die verplasing te aanvaar.

Genl.maj. Andre Lincoln se aanstelling as Wes-Kaapse hoof van die bende-eenheid word nou deur van sy kollegas in die Wes-Kaap bevraagteken. Die waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof, genl.maj. Mpumelelo Manci, het nou glo sy eie ondersoek na Lincoln se aanstelling aangevra. Foto: Jaco Marais

Lincoln het volgens sy skrywe aan Matakata ook probeer om in November 2015 ’n vergadering met lt.genl. Sindile Mfazi, wat toe waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof was, te reël om die dreigemente teen die lewens van sy lede te bespreek. ’n Vergadering is aanvanklik vir 22 November vasgemaak, maar is die volgende dag gekanselleer. Mfazi het volgens die skrywe nie redes gegee vir die kansellasie nie.

Mfazi se kantoor het die e-pos waarin die vergadering versoek word, erken, maar dit is die volgende oggend gekanselleer.

Hy wou onder meer Mfazi inlig van dreigemente teenoor die lewe van vier van sy lede wat ondersoeke in Pretoria en Johannesburg gedoen het.

Mfazi het kort ná Kinnear se moord gesê hy weet nie wie Kinnear is nie.

Lincoln het in die e-pos aan Matakata gesê dat teenbende-eenheidlede in Desember 2019 tot hul volle kapasiteit ontplooi is en dat lede wat statiese diens by Kinnear se huis gedoen het, se dienste benodig was vir operasies oor die feestyd.

Alle verlof is gekanselleer en Kinnear se kollegas is ontplooi om die funksies te verrig. Daar was ook van Kinnear se kollegas wat hom (Lincoln) daarvan beskuldig het dat Kinnear voorkeurbehandeling geniet terwyl hulle ook blootgestel is.

Polisiebeleid

Die polisiebeleid vereis dat misdaadintelligensie ’n risiko-assessering doen in gevalle waar lede aan sensitiewe sake werk. Kinnear het glo egter geweier om met misdaadintelligensie saam te werk. Hy het geglo dat sekere lede van die eenheid hom teiken en dalk agter die dreigemente sit.

Volgens Lincoln het Kinnear tydens ’n ondersoek van nasionale teenmisdaadintelligensie in November 2019 en Desember 2019 geweier om sy samewerking te gee. Hulle kon nie die risiko-assessering voltooi nie.

Navrae is na die Valke en brig. Vish Naidoo gestuur. Naidoo het gesê dat hulle nie op ’n interne ondersoek gaan kommentaar lewer nie.

Die Valke se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.