Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinnear-moord: Lincoln weet al lank hy is in polisie se visier

Genl.maj. André Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, het in November verlede jaar al geweet sy optrede is in die polisie se visier oor die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear.

Genl.maj. André Lincoln
Genl.maj. André Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, word nou departementeel ondersoek weens “versuim om beskerming” aan die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear te verskaf. Foto: Jaco Marais

Dit het Donderdag aan die lig gekom dat die polisie hom inderdaad nou departementeel ondersoek. Luidens ’n kennisgewing wat Donderdag aan Lincoln bedien is, word hy ondersoek omdat hy “van 3 tot 18 September 2020 versuim het om beskerming aan Kinnear te gee”.

Die tweede klag is dat hy nie die Wes-Kaap se polisiehoof, lt.genl. Yolisa Matakata, of die hoof van misdaadintelligensie oor ’n moontlike dreigement (teen Kinnear se lewe) ingelig het en derhalwe van die provinsiale hulpbronne tot sy beskikking gebruik gemaak het om Kinnear te beskerm nie.

Lincoln het op 5 November aan Matakata geskryf hy is bewus van gerugte dat hy moontlik geskors gaan word op grond van aanbevelings van ’n interne ondersoek wat genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, kort ná Kinnear se dood gelas het oor hoekom sy beskerming onttrek is.

Hy vra in die brief dat Matakata die beweringe bevestig of ontken. “As dit waar is, moet ek dringende stappe doen om met sowel my regsverteenwoordiger as my vakbondverteenwoordiger te konsulteer.”

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het Donderdag by navraag gesê dis ’n interne polisiesaak en dat hy daarom nie op enige vrae gaan reageer nie.

Polisie-ondersoeke

Sitole het lt.genl. Moeketsi Sempe aangestel om die aanvanklike ondersoek te doen.

Sitole het daarna omstreeks einde Oktober vir lt.genl. Francinah Vuma aangestel om ’n verdere interne ondersoek te doen.

Volgens bronne word Lincoln na aanleiding van Vuma se verslag en op aanbeveling van lt.genl. Sindile Mfazi, tans waarnemende hoof van misdaadintelligensie, departementeel ondersoek.

Kinnear is op 18 September verlede jaar voor sy huis in Gearingweg, Sidneyvale, Bishop Lavis, deur ’n onbekende man met ’n rooi kappietop doodgeskiet.

Hy is meer as vyf keer raakgeskiet, meestal in die bolyf. Hy het op die toneel in sy voertuig aan sy wonde beswyk. Sy gemaskerde moordenaar het daarna in die rigting van die Malawi- informele nedersetting, wat langs Bishop Lavis geleë is, gevlug.

Kinnear het vir sy lewe gevrees
Lt.kol. Charl Kinnear, speurhoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, is op 18 September verlede jaar voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, vermoor. Foto: Facebook

Kinnear was een van die speurhoofde by die teenbende-eenheid en Lincoln was sy regstreekse hoof.

Hy was tydens sy dood ook aan die hoof van ’n ondersoek na die onwettige uitreiking van vuurwapenlisensies by Gautengse polisiekantore.

Nafiz Modack, vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, is een van die mense wat vroeër verlede jaar in verband met dié ondersoek in hegtenis geneem is.

Kinnear het vir sy lewe gevrees nadat ’n ander polisielid, kol. André Kay, in November 2019 by sy huis in Bishop Lavis deur onbekende aanvallers doodgeskiet is. ’n Week ná die aanval op Kay is ’n man met handgranate in sy besit voor Kinnear se huis betrap.

Hy is in hegtenis geneem. Die man en nog twee ander se verhoor gaan in Januarie vanjaar in die streekhof in Parow voort.

Kinnear het in Januarie 2019 in ’n beëdigde verklaring gesê dat hy vir sy lewe en dié van sy gesin vrees en gevra dat van sy kollegas verbonde aan die Wes-Kaapse misdaadintelligensie-afdeling ondersoek word. Hy het toe aangevoer dat lede van misdaadintelligensie in private voertuie voor sy huis geparkeer staan en sy huis monitor. Die voertuie, het Kinnear glo uitgevind, behoort almal aan die misdaadintelligensie-afdeling.

Intussen is nog net een persoon – Zane Kilian, ’n voormalige professionele rugbyspeler wat al onder meer vir die Valke uitgedraf het – in verband met Kinnear se moord in hegtenis geneem.

Kilian is glo die man wat Kinnear se selfoonseine nagespoor het.

Netwerk24 het reeds op 19 November 2020 berig Kinnear se selfoon is weke voor sy moord op selfoonmaste nagespoor om sy bewegings dop te hou.

Die dag van sy moord het die nasporing van sy selfoonsein om 08:00 begin.Dit is gestaak kort nadat hy op Vrydag 18 September 2020 omstreeks 15:00 vermoor is.

Lincoln se geskiedenis met die polisie

Die konstitusionele hof het in Oktober verlede jaar ’n stokkie gesteek voor Lincoln se poging om R15 miljoen skadevergoeding van die polisie te eis.

Dit spruit uit ’n saak waarin hy eers aan onder meer bedrog en diefstal skuldig bevind en uit die polisie ontslaan is, maar op appèl onskuldig bevind en heraangestel is.

Lincoln het in die skadevergoedingsaak onder meer aangevoer hy is kwaadwillig vervolg. Die bedrag wat hy geëis het, is wat hy sou verdien het as hy toegelaat is om sy loopbaan ongehinderd voort te sit.

André Lincoln
Die kennisgewing waarin genl.maj. André Lincoln ingelig word dat die polisie hom departementeel ondersoek. Hy het die kennisgewing Donderdag ontvang.

Die hooggeregshof in Kaapstad het in Oktober 2018 sy skadevergoedingseis toegestaan, waarop die minister van polisie na die appèlhof geappelleer het. ’n Volbank regters het sy appèl toegestaan, waarop Lincoln onsuksesvol na die konstitusionele hof geappelleer het.

Die aanloop hiertoe was dat hy in 1996 deur oudpres. Nelson Mandela as die hoof van ’n presidensiële ondersoek aangestel is wat onafhanklik van die polisie sou werk en regstreeks aan Mandela, die destydse adj.pres. Thabo Mbeki en die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Sydney Mufamadi, sou rapporteer.

Hy moes onder meer die Italiaanse mafiabaas Vito Palazzolo, wat toe in Kaapstad gewoon het, en die beweerde bande wat hy met staatsamptenare, polisielede en sakelui gehad het, ondersoek.

Die eenheid moes ook mense soos die vermoorde uitsmyterbaas Cyril Beeka en vir Rashied Staggie, vermoorde leier van die Hard Livings-bende, ondersoek.

Lincoln is egter strafregtelik vervolg nadat hy daarvan beskuldig is dat hy vir Palazzolo werk.

Sy verhoor het in 1998 in die landdroshof in Wynberg begin en hy is in 2003 op 17 aanklagte van onder meer bedrog, diefstal en die misbruik van ’n skuilhuis van die polisie skuldig bevind en uit die polisie ontslaan.

Hy het egter teen die skuldigbevinding geappelleer en is in 2009 op alle aanklagte vrygespreek.

Hy is in 2010 heraangestel in die polisie, maar in die rang wat hy was toe hy uit die polisie ontslaan is. 

Lincoln het nie Donderdag op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.